Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Inkomste van Steers-, Wimpy-groep net 1% hoër
Steers, Debonairs en Fishaways het in die afgelope halfjaar tot einde Augustus hul markaandeel verhoog, terwyl Wimpy, Mugg & Bean, Feggo Caffé en Milky Lane hul markaandeel stabiel gehou het.

Die inkomste van die kitskosgroep Famous Brands, wat onder meer Wimpy en Steers besit, het in Suid-Afrika met net 1% tot R2,7 miljard gestyg.

Dit is ’n groot daling van die ooreenstemmende halfjaar af toe groei van 7,2% getoon is, en ook stadiger as die volle boekjaar tot einde Februarie wat inkomstegroei van 3% getoon het.

Die groep, wat ook ’n franchisegewer is, oorsee winkels besit en vervaardiging doen, verdien nog die grootste deel van sy inkomste tuis.

Sy ander handelsname sluit in Debonairs, Mugg & Bean, House of Coffees en Tashas.

“Mededinging in die kitskosbedryf is steeds mededingend, maar die aggressiewe en onrealistiese pryse van die afgelope jare begin nou op redeliker vlakke tot ruste kom,” het Darren Hele, uitvoerende hoof, oor die Suid-Afrikaanse bedrywighede gesê.

Volgens hom het internasionale nuwelinge dié tendens veroorsaak, en van hulle het weer die land verlaat. Terselfdertyd is onafhanklike ondernemings wat met “onvolhoubare marges” bedrywig is, gerasionaliseer.

Hele het ook opgemerk dat die agteruitgang van die plaaslike ekonomie skerp verskille in verkope in die verskillende provinsies meegebring het.

Die provinsies wat die ergste geraak is, is Limpopo en Noordwes, terwyl mense in die Wes- en Oos-Kaap ook meer langtand aan kitskos eet, volgens hom. In Gauteng is beter resultate aangemeld.

Bedryfsinligting toon verbruikers het nie kitskoswinkels meer in die halfjaar besoek vergeleke met die ooreenstemmende tydperk nie. Die middelklas het meer kitskosplekke besoek, maar dit is weens die verskuiwing van laerinkomstegroepe na die middelklas, veral jonger mense.

Volgens hom het Debonairs Pizza, Steers en Fishaways in die halfjaar hul markaandeel verhoog, terwyl Wimpy, Mugg & Bean, Fego Caffé en Milky Lane hul markaandeel gestabiliseer het.

Hy het ook gemeld dat lae voedselinflasie in die halfjaar die geleentheid beperk het om pryse op spyskaarte te verhoog midde verbruikers se besteebare inkomste wat onder druk is. Pryse is met minder as die inflasiekoers verhoog.

In Brittanje het die inkomste van Gourmet Burger Kitchen (GBK) en Wimpy met 6% gedaal tot R701,4 miljoen. GBK is in sakeredding ná ’n droewige paar jaar.

“Onsekerheid weens die onlangse verandering in politieke leiers asook oor die vordering met Brexit, het verbruikersvertroue in die halfjaar geknou.”

Die groep se bedryfswins het met 4% tot R405 miljoen gedaal.

Die bedryfswinsmarge is 11,3% vergeleke met 11,8% verlede jaar.

Onsekerheid weens die onlangse verandering in politieke leiers asook oor die vordering met Brexit, het verbruikersvertroue in die halfjaar geknou.

Verlede jaar is ’n groot deel van sy bedrywighede oorsee teen R873,9 miljoen afgeskryf.

Omdat dié syfer van verlede jaar nie herhaal is nie, is daar weer ’n wins van R291,4 miljoen getoon vergeleke met verlede jaar se verlies van R543,6 miljoen.

Sy wesensverdienste per aandeel – wat die winsgewendheid toon wanneer sekere eenmalige items uitgelaat word – het egter met 15% tot 159c gedaal.

Die direksie het ’n dividend van 90c verklaar, teenoor geen dividend in die halfjaar verlede jaar.

“Die direksie monitor die handelstoestande, die groep se toekomstige vertoning en bedryfsvereistes en verkrygingsgeleenthede om verdere dividendbetalings te bepaal,” lui sy verklaring oor die resultate.

Darren Hele

Die dividend van 90c is nog baie laer as wat dit was toe daar die laaste keer in die halfjaar ’n dividend verklaar is, naamlik einde Augustus 2015 toe dit 190c per aandeel was.

Die groep het einde Augustus 2016 opgehou om ’n dividend te verklaar en het eers einde van sy boekjaar Februarie vanjaar sy dividendbetalings hervat.

Sy dividende is opgeskort einde Augustus 2016 ná talle verkrygings gedoen is, insluitende die grootste een tot nog toe, naamlik GBK, wat sy skuldlas skerp verhoog het. Dieselfde het einde 2017 Augustus gegeld toe nog verkrygings gedoen is.

Die groep se netto skuld in die afgelope halfjaar het van R1,9 miljard ’n jaar gelede tot R2,6 miljard gestyg. Dit sluit lenings van R1,9 miljard in en huurverpligtinge van R1,1 miljard.

Sy kontant einde van die halfjaar was minder as die helfte wat dit einde Augustus 2018 was op R428,6 miljoen. Dit is deels omdat sy lenings wat terugbetaal is, met 69% tot R180 miljoen gestyg het, asook weens die terugbetaling van huurverpligtinge van R51,6 miljoen.

Die groep sê sy skuldverhouding is nog binne die bepalings van sy lenings en hy is tevrede met hoeveel sy lenings verminder is. Dit was einde Augustus verlede jaar R2,7 miljard.

Meer oor:  Steers  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Resultate  |  Kosgroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.