Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Inperking kos Capitec al R404 miljoen

Die staat van inperking het daartoe gelei dat Capitec nie net minder lenings toegestaan het nie, maar ook dat hy ’n duur buffer moes opbou om voorsiening te maak vir swak skuld wat dalk kan volg.

Capitec het wel meer begrafnispolisse verkoop tydens die Covid-19-inperking.

Die bank sê Vrydag in ’n handelsverklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, dat hy vir die drie maande tot einde Mei ’n verlies van R404 miljoen as ’n regstreekse gevolg van die staat van inperking se effek gely het.

Sy voorsiening vir swak skuld is nou 145% hoër as verlede jaar dié tyd. Dit het sedert Februarie met R3,3 miljard toegeneem.

Capitec sê dis hoofsaaklik omdat hy betaalvakansies op lenings aan individue en ondernemings toegestaan het wat deur die inperking geraak is.

Die waarde van die betaalvakansies beloop R5,75 miljard aan individue en R236 miljoen aan ondernemings.

Capitec is konserwatief in sy benadering tot die moontlike uitwerking van dié enorme betaalvakansies. Hy sê hy maak eerder voorsiening dat ’n groot deel swak skuld sal word as wat hy te optimisties in sy vooruitsig is.

Maar die bank reken steeds daar behoort nie soveel swak skuld te wees nie aangesien die oorhoofse meerderheid van die betaalvakansies aan kliënte met ’n goeie betalingsgeskiedenis toegestaan is.

Lenings, die bank se brood en botter, het ook onder die staat van inperking gekwyn.

Sy totale inkomste uit lenings, insluitend kredietlewensversekering, was 7% onder verwagting vir die drie maande tot einde Mei.

Volgens Capitec is dit hoofsaaklik weens die daling van 43% in lenings aan individue en van 25% aan ondernemings soos wat sake tydens die staat van inperking grotendeels tot stilstand gekom het.

Aan die positiewe kant het die bank se inkomste uit begrafnispolisse met 17% gestyg. Dit was nie soseer omdat meer polisse verkoop is nie as wat premies verhoog is en mense hul polisse meer getrou betaal het. In Mei is meer as 80% van die premies betaal. Capitec verklaar nie waarom dit so is nie.

Die bank verwag nou dat sy verdienste per aandeel beduidend gaan daal vir die ses maande tot einde Augustus en dat dit eers in die tweede helfte van sy 2021-boekjaar sal stabiliseer.

Sy verdienste per aandeel gaan na verwagting met sowat 70% van R25,49 tot R17,84 daal, terwyl sy wesensverdienste per aandeel van R25,45 tot R17,82 gaan daal.

“Terugbetalings van lenings wat herskeduleer is en die aanvang van betalings ná betaalvakansies sal bepaal of ons te konserwatief of te toegeeflik in ons beplanning was,” sê Capitec.

“Die eerste betalings wat aan die einde van Junie weer begin het, het ’n positiewe aanduiding gegee, maar Julie en Augustus se betalings sal duidelik maak wat die werklike effek was.”

Capitec se aandeelprys het net ná die aankondiging met 3,82% van R865,19 tot R832,13 gedaal. Dit het later ietwat tot R845,60 herstel.

Meer oor:  Capitec  |  Bankbedryf  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.