Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Inperking ‘red’ Ellies
Vragmotors wat Ellies-produkte vervoer. Foto: Ellies

Ellies is as’t ware gered deur die Covid-19 inperking.

Die grootste deel van sy inkomste kom van die installering van satellietskottels, en weens mense wat in hul huise vasgekeer was, was daar ’n skerp toename in satelliettelevisie-inskrywings.

Ellies se vennoot, MultiChoice, was as ’n noodsaaklike diensverskaffer verklaar en Ellies kon dus deur die loop van die streng vlakke van inperking voortgaan om satellietskottels vir mense te installeer.

Ellies, wat alles verkoop van kragstuwingsproppe en multikragproppe tot satellietskottels en sonpanele, het in die halfjaar tot einde Oktober dus ’n wins behaal.

Hy het ’n jaar gelede nog ’n nabelaste verlies van R30,1 miljoen gely, en in die volle boekjaar tot einde April ’n verlies van R196,1 miljoen.

Ellies het te midde van die Covid-19-inperking daarin geslaag om sy omset met 1,9% tot R656,7 miljoen te verhoog en sy nabelaste wins was R12,9 miljoen.

Die maatskappy het wel nie ’n dividend verklaar nie, en sy netto batewaarde per aandeel het met 51,6% tot 20,8c gekrimp.

Shaun Prithivirajh, uitvoerende hoof van Ellies, sê die groep het sy produkportefeulje hersien en ontslae geraak van produkte wat nie so fluks verkoop nie. ’n Vennootskap is met Vox Telecom gesluit om te help met die installering van vesel-internet en satelliet-installasies vir huishoudings.

Terwyl Ellies in Oktober met die uitreiking van sy voljaarresultate nog twyfel gehad het oor sy status as lopende saak, glo die direkteure nou dat die maatskappy met die volgehoue steun van sy bankiers en die wins wat in die halfjaar behaal is, tesame met die wins- en kontantvloeivooruitsig vir die komende jaar, wel ’n lopende saak is.

Ellies, wat alles verkoop van kragstuwingsproppe en multikragproppe tot satellietskottels en sonpanele, het in die halfjaar tot einde Oktober ’n wins behaal.

Wat Ellies ook gehelp het is die uitkontraktering van sy pakhuis- en logistieke bedrywighede aan Value Logistics, asook die verkoop van sekere eiendom. Hy is besig om sy IT-stelsels op te knap en meer te digitaliseer.

Ellies hoef in die oorsigtydperk nie soveel voorraad af te geskryf het as in die voorafgaande twee boekjare nie.

Die groep merk wel op dat die groei in nuwe satellietskottel-installasies afgeneem het sedert die inperkings verslap is.

Hy is ook verlig oor ’n paar regskwessies wat lank vir hom ’n remskoen was, maar wat nou uiteindelik uitgesorteer is. ’n Eis van die vervoergroep Super Group van R42 miljoen is ná die halfjaareinde vir ’n kontantbedrag van R3 miljoen geskik. In ruil daarvoor het Ellies R2 miljoen se voorraad teruggekry waaraan Super Group vasgehou het terwyl daar nog oor die eis onderhandel is. Al Super Group se eise is nou afgehandel. ’n Hofbeslissing in Ellies se guns waarby die maatskappy Beyond Platinum betrokke was, is suksesvol gehandhaaf. Beyond Platinum het teen die hofuitspraak geappelleer, maar die appèl is op 13 November met koste van die hand gewys.

Beleggers het gejuig oor Ellies se beter syfers, waaroor hy reeds Donderdag ’n handelsverklaring uitgereik het. Sy aandeelprys op die JSE het reeds Donderdag van 7c tot 11c opgeskiet, nadat dit vir die afgelope drie maande tussen 5c en 8c water getrap het.

Meer oor:  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.