Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Inspekteurs op ondernemings se spoor – Nxesi

Arbeidsinspekteurs is landwyd ontplooi om ondernemings wat nie aan die regulasies ingevolge die staat van inperking voldoen nie hok te slaan.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid. Foto: Argief

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het Dinsdag gesê supermarkte is reeds gesluit weens hul versuim om hul werknemers met die nodige beskermende toerusting toe te rus. Sy departement is egter ook oor talle ander oortredings bekommerd.

Die inspekteurs sal hoofsaaklik in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap aktief wees, want dit is waar die meeste oortredings tans plaasvind.

Nxesi sê dat daar ook talle gevalle is waar werknemers gedwing word om te werk, al is die onderneming nie as ’n noodsaaklike diensverskaffer aangewys nie.

Slegs noodsaaklike diensverskaffers mag tans sake doen, al het ander ondernemings ook probeer om vir ’n permit aansoek te doen. Nxesi raai werknemers wat in hierdie omstandighede gedwing word om te werk aan om dadelik die polisie te kontak.

Inspeksies sal gedoen word in samewerking met die polisie asook die departement van handel, nywerheid en mededinging om te verseker dat die regulasies nagekom word.

Nexsi sê hy is besorg oor gerugte dat werknemers gedwing word om hul jaarlikse verlof te gebruik gedurende die staat van inperking. Hoewel dit nie onwettig is nie, doen Nxesi ’n beroep op ondernemings om in solidariteit met hul personeel dan eerder vir voordele by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) aansoek te doen.

Uitbetaling van voordele

Nxesi sê hy wil dit benadruk dat die verligting wat die WVF in hierdie verband gee net vir April geld.

Werknemers moes teen hierdie tyd al hul salarisse vir Maart ontvang het.

Die enorme getal eise wat egter by die WVF ingedien gaan word, gaan die stelsel oorlaai, sê die minister.

Om die ineenstorting van die stelsel te verhoed, is die departement nou besig om met verskeie bedryfsliggame saam te werk sodat betalings in groepe gemaak kan word aan bedrywe en ondernemings wat behoeftig is.

Nxesi sê alle partye verstaan dat die arbeidsentrums van die departement nie miljoene individuele eise vir werkloosheidsversekering kan verwerk nie en daarom moet dit onder meer deur die maatskappye en die bankraad uitbetaal word. Die proses is aan die gang om ooreenkomste aan te gaan, veral in die toerisme- en reisbedryf.

Maatskappye sal aan oudits onderhewig wees omdat hulle openbare geld gaan gebruik om werkloosheidsversekering uit te betaal. Meer besonderhede sal egter eers later bekend gemaak word oor hoe maatskappye die uiteindelike betalers van werkloosheidsversekering gaan word.

Intussen word maatskappye gevra om die WVF se tolvrye nommer te skakel om uit te vind hoe hulle te werk kan gaan om die geldhulp te bekom om hul geraakte werknemers mee te vergoed.

Die departement sê talle nienoodsaaklike ondernemings wat moes sluit, is besig om hul personeel op onbetaalde verlof te sit. Dít kweek nie die idee van solidariteit wat die regering nou sê in die land nodig is nie.

Nxesi doen ’n beroep op ondernemings om eerder met die regering saam te werk om seker te maak hul werknemers is veilig en word vergoed, al kan hulle nie werk nie.

Dit is waarvoor die WVF daar is, sê die minister.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.