Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Interdik wil Steinhoff belet om Pepkor te verkoop

’n Dringende aansoek is Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad gebring om Steinhoff te belet om Pepkor-aandele te verkoop wat daartoe kan lei dat hy beheer oor dié filiaal van hom verloor.

Pep is deel van die nuwe Pepkor wat geskep is toe Steinhoff in 2017 sy Suid-Afrikaanse ondernemings weer in Suid-Afrika kom noteer het. Die maatskappy se naam was eers Steinhoff Africa Retail (Star) maar is na die omstrede gebeure verlede jaar na Pepkor verander.

Die aansoek is deur vyf maatskappye gebring wat onder andere deur Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, besit word. Die vyf applikante is ook die eisers in ’n saak teen Steinhoff om Tekkie Town terug te kry.

Die aansoek volg ná die onlangse onthulling deur

Steinhoff dat Markus Jooste, sy voormalige uitvoerende hoof, ’n groep van topbestuur en eksterne samesweerders gelei het om die boeke van die groep met ’n “verbysterende R106 miljard” te kook.

Dié onthulling kom ná afloop van ’n maande lange forensiese ondersoek oor die ongerymdhede van Steinhoff se boeke. Steinhoff het aangedui die ongerymdhede dateer uit 2009.

“Dit is vir ons duidelik, ná Steinhoff se publikasie van die resultate van die forensiese ondersoek en die maatskappy se getuienis in die parlement in Maart, dat ons ’n goeie saak vir restitusie het,” sê Van Huyssteen in ’n verklaring.

Van Huyssteen sê Steinhoff het self erken dat dit wat aan hulle as die maatskappy se finansiële posisie in 2015 en 2016 voorgehou is ver verwyderd was van die waarheid en gegrond was op “uitgebreide wanvoorstellings”.

Hy sê Steinhoff se voortgesette verkoop van sy bates om kontant te kry om ’n likwidasie af te weer maak hulle bekommerd.

Steinhoff het onlangs sy aandele in KAP Industrial op ’n versnelde grondslag verkoop.

Bernard Mostert, een van die eisers, voormalige uitvoerende hoof en ’n medeaandeelhouer van Tekkie Town, sê voordat die aansoek gebring is, is Pepkor sowel as Steinhoff genader om ’n onherroeplike onderneming van hulle te kry dat Steinhoff nie sy beheer oor Pepkor gaan verloor nie.

“Die onlangse onthulling en stappe deur Steinhoff – soos die versnelling van die verkoop van bates – dui vir ons daarop dat die aandeelhouding in Pepkor of selfs die integriteit van sy omstrede aandeelhouding in Tekkie Town in gevaar is, hetsy deur ’n poging om die onderneming te verkoop of in ’n poging om skuld te maak teen die onderneming en sy bates.”

Die aansoek is teen vyf respondente gebring, naamlik Steinhoff International Holdings NV, Pepkor Holdings Beperk, Pepkor Speciality, Tekkie Town en Town Investments gebring.

Die aansoek word gebring om hulle te verbied om in Tekkie Town se aandele of in sy winkels handel te dryf op enige wyse wat daartoe kan lei dat die voormalige eienaars van die maatskappy se aandeelhouding en beheer oor Tekkie Town nie herstel kan word nie.

Die respondente wil ook ’n interdik kry om Pepkor en sy filiaal en Pepkor Speciality te verbied om enige aandeelhouding in Tekkie Town oor te dra, te sedeer of te verpand.

Boonop sluit die verlangde bevel in om Steinhoff te verbied om enige aandele in Pepkor te verkoop of daarin handel te dryf op ’n wyse wat daartoe sal lei dat hy beheer oor dié filiaal van hom verloor of wat daartoe sal lei dat die applikante se eis teen Steinhoff nie volbring kan word nie.

Van Huyssteen en die ander partye het in 2016 al hul aandele in Tekkie Town vir aandele in Steinhoff verruil waarin hulle vir ’n sekere tydperk nie kon handel dryf nie. Die aandele is nou in wese waardeloos.

Hulle was van die eerstes wat in Mei 2018 ’n eis teen Steinhoff ingestel het om hul aandeelhouding en onderneming terug te kry.

Die aansoek om ’n interdik is gebring hangende die uitspraak in die hooggeregshof in Kaapstad in dié eis teen Steinhoff.

Die respondente moet Woensdag aandui of hulle die aansoek gaan teenstaan.

Steinhoff het in reaksie ontvangs van die aansoek bevestig. “Ons sal in die openbaar kommentaar lewer, deur die korrekte kanale, wanneer dit geleë is.”

Pepkor het ook gesê hy neem kennis van die hofaansoek. “Na die inhoud nagegaan is, sal Pepkor op geskikte wyse reageer om sy regte en belange te beskerm.” 

Meer oor:  Steinhoff  |  Tekkie Town  |  Pepkor  |  Braam Van Huyssteen  |  Bernard Mostert  |  Hooggeregshof  |  Hofaansoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.