Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Investec-aandeel skiet op ná nuus oor nuwe notering

Investec Batebestuur gaan van die groter Investec-groep ontbondel word en afsonderlik noteer, het die groep Vrydagoggend aangekondig.

Hendrik du Toit, wat voorheen uitvoerende hoof van Investec Batebestuur was, gaan dit weer wees wanneer die maatskappy van die groter Investec ontbondel.

Dis nie vir die Investec-groep maklik om Investec Batebestuur te laat gaan nie omdat dit is soos om “een van jou kinders” te laat gaan, het Stephen Koseff, uitvoerende hoof van die groep, uit Londen gesê.

“Toe my dogter moes trou, was dit aan die begin baie moeilik, maar nou het ek drie kleinkinders. Nou is dit maklik.”

Koseff sê nes hy sy dogter moes toelaat “om as individu te groei”, glo die Investec-groep Investec Batebestuur “sal vlerke kry” as dit van die groep ontbondel word.

Dit sal sowel die batebestuurder as die oorblywende dele van Investec – die spesialisbank en welvaartbestuurder – in staat stel om hul eie nismarkte te ontwikkel.

“Dit sal groter fokus en groter eenvoud bring. Ons verstaan julle ouens in die mark hou van eenvoud en hou nie van ingewikkeldheid nie,” het Koseff in ’n voorlegging aan batebestuurders gesê.

Koseff het beklemtoon dat hy nie besonderhede oor dinge soos aandeelprys en markwaarde kan gee nie omdat dit later in die proses besluit sal word.

Investec Batebestuur se primêre notering sal, soos dié van die Investec-groep, op die Londense aandelebeurs wees en ’n inwaartse notering sal op die JSE verkry word.

Die proses, wat Vrydagoggend aangekondig is, kan tot 12 maande duur.

Investec se aandeelprys het aanvanklik met die opening van die JSE effens gedaal, maar het later, toe die nuus versprei het, met 7,38% tot R101,01 opgeskiet. Dis die beste aandeelprys in ses maande.

Hendrik du Toit sal ná die notering die uitvoerende hoof van Investec Batebestuur word en Fani Titi die uitvoerende hoof van Investec.

Du Toit is nou ook die uitvoerende hoof van Investec Batebestuur, maar word in Oktober saam met Titi die gesamentlike uitvoerende hoof van die Investec-groep, soos reeds in Februarie aangekondig is.

Toe is ook aangekondig dat Investec se stigter en uitvoerende hoof, Koseff, en Bernard Kantor, besturende direkteur, uittree. Hulle word uitvoerende direkteure totdat die transaksie voltooi is.

Luidens ’n nuusverklaring sal Investec Batebestuur danksy die ontbondeling in ’n beter posisie wees om sy groei te versnel en sal dit makliker wees om talentvolle batebestuurders te lok en te behou.

Investec sal ’n minderheidsbelang in die afsonderlik genoteerde Investec Batebestuur hou. Aandeelhouers in Investec sal ook aandele in Investec Batebestuur kry.

Geen besonderhede oor die aandeelprys of hoeveel aandele Investec-aandeelhouers ontvang, is al bekend gemaak nie.

Investec Batebestuur het gegroei van ’n firma wat in 1991 £40 miljoen namens beleggers belê het tot een wat teen 31 Augustus vanjaar £109 miljard bestuur het. Die afgelope tien boekjare het die bates onder bestuur met gemiddeld 13,7% per jaar gegroei.

Die maatskappy het streekhoofkantore in Londen, Kaapstad, New York, Sydney, Hongkong, Singapoer, Luxemburg, Guernsey, Windhoek en Gaborone.

Sy kliënte sluit volgens die groep van die wêreld se grootste private en openbare pensioenfondse in, asook finansiële instellings, stigtings, sentrale banke en tussengangers wat individuele beleggers bedien.

Die ontbondeling is onderhewig aan reguleerders en aandeelhouers se goedkeuring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.