Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Investec: Ontknoping verloop volgens plan

Alles verloop volgens plan om die finansiëledienstegroep Investec teen September in ’n batebestuurder en ’n bankgroep op te breek.

Fani Titi, uitvoerende hoof van die Investec-groep, saam sy mede-hoof Hendrik du Toit, by die aanbieding van die resultate vir die boekjaar tot einde Maart in Londen Donderdag.

Die plan is in September 2018 aangekondig. Dit behels ook die afsonderlike hoofnotering van Investec Batebestuur in Londen met ’n sekondêre notering op die JSE.

Fani Titi, gesamentlike uitvoerende hoof van die groep, het Donderdag met die aanbieding van Investec se resultate vir die boekjaar tot einde Maart gesê dit was ’n moeilike 12 maande om op die ontknopingsplanne te fokus. Personeel se fokus het op kliënte gebly. “Dit sou baie maklik gewees het om inwaarts gefokus te wees op die planne,” sê hy.

Hendrik du Toit, sy mede- uitvoerende hoof, sê twee onafhanklike ondernemings is gevorm wat gereed is vir langtermyngroei.

“Aan die einde van die huidige boekjaar gaan ons ’n baie ander soort aanbieding hê en julle gaan die eienaars wees van twee ondernemings, wat eenvoudiger en uiters gefokus op groei sal wees,” het hy aan aandeelhouers gesê.

Du Toit gaan ná die ontknoping terugkeer na sy rol as uitvoerende hoof van batebestuur.

Halfpad met projek

Hy het in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê baie van die werk wat die afgelope maande gedoen is, is interne werk. “Dis amper soos Brexit, daar is kontrakte nodig om dienste te skei en sulke goed. Ons was redelik onafhanklik in batebestuur, maar mense kom agter daar is meer dinge wat gedoen moet word as wat jy gedink het.

“Ons is ongeveer in die tweede helfte van die projek wat ons gesê het ons hoop om binne 12 maande te doen.”

Volgens hom moet die goedkeuring van reguleerders en aandeelhouers nog gekry word.

Hy sê hulle is besig met omvattende gesprekke oor die plan sodat aandeelhouers dit verstaan.

“Die rasionaal is ’n baie duidelike een van vereenvoudiging en fokus.”

Hy sê dit is waar die meeste ontknopings waarde toevoeg – die fokus en vereenvoudiging. “Ondernemings raak mettertyd baie kompleks, dis amper soos ’n ou huis met baie goed teen die mure. Ons gaan met die vereenvoudiging goed verwyder wat die aandag weglei na goed wat nie kernbelangrik is nie.”

Hy sê daar is redelike waarde wat geskep kan word wat nie tans in die aandeelprys gesien word nie.

Sedert hy en Titi in September verlede jaar oorgeneem het by Stephen Koseff, voormalige uitvoerende hoof, en Bernard Kantor, voormalige besturende direkteur, wat afgetree het, was dit sy taak om die onderneming te posisioneer vir die volgende tien tot 20 jaar.

Batebestuur sal ’n nuwe naam kry

Die plan is om uiteindelik Investec Batebestuur se naam te verander, hoewel hy so genoteer sal word.

Omdat die bank regstreeks met kliënte werk, gaan hy die groep se handelsnaam hou.

Batebestuur het hoofsaaklik institusionele kliënte.

Hy wou niks oor die naamsverandering uitlap nie.

In die boekjaar het die groep se bedryfsinkomste met 1,8% tot £2,4 miljard gestyg. Die meeste van die inkomste word verdien uit rente op lenings en batebestuursgelde.

Die groep se bedryfswins het met 9% tot £664,6 miljoen gestyg.

Die groep het nou 10 573 personeellede; sowat 400 meer as aan die einde van die vorige boekjaar. Hiervan is 5 915 in Suid-Afrika; ook meer as aan die einde van die vorige boekjaar.

Du Toit sê daar is nie planne om poste in Suid-Afrika te besnoei nie. “Suid-Afrika is baie belangrik vir ons groei. Daar is reeds 150 hoogs betaalde internasionale poste in Kaapstad. Ons bring internasionale werk hierheen omdat ons die Suid-Afrikaanse platform gebruik om ons internasionale ondernemings te ondersteun met produkontwikkeling, die risiko- en regsmense asook tegnologiese mense.

“Ons gaan soos altyd ’n netto werkskepper in Suid-Afrika wees en is baie opgewonde oor die moontlikheid om bykomende markaandeel te kry.”

Hy meen die sterk invloei van geld na die Suider-Afrikaanse batebestuurder toon die groeipotensiaal.

In geheel het sy bates onder bestuur met 7,3% tot £111,4 miljard gestyg. Dis nadat wesenlike netto invloei van £6,1 miljard ontvang is. Dit is meer as in die vorige boekjaar.

Daarvan is meer as die helfte uit Afrika ontvang. Du Toit sê hulle het betekenisvolle invloei van staatsinstellings en pensioenfondse in Afrika gekry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.