Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Investec se nismark ‘skans teen taai tye, nuwe bank’

Danksy sy nismark van welgestelde kliënte is Investec Bank nie bekommerd oor mededinging van die pas bekendgestelde Discovery Bank nie.

Investec se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg.

Dis ook hierdie nismark wat vir hom “ ’n standvastige vertoning in ’n moeilike omgewing” gelewer het in die ses maande tot einde September, volgens Fani Titi, nuwe mede- uitvoerende hoof van die Investec-groep.

Titi het Donderdag in Londen, met die bekendmaking van Investec se halfjaarsyfers, gesê die bank se bedryfswins het met net 4% gestyg weens die swak ekonomie en politieke onsekerheid.

“Die moeilike bedryfsomgewing het tot ’n verlangsaming in groei in die leningsboek gelei en het die inkomste uit nuwe kliënte ook verswak.”

Hy sê die bank is egter bestand teen sulke moeilike toestande omdat sy tipiese kliënt meer bestand is.

Ciaran Whelan, nuwe direkteur van risiko, sê Investec het nie slapelose nagte oor Discovery Bank nie danksy sy nismark. “Daar is reeds baie mededinging in die Suid-Afrikaanse mark. Ek glo daar is baie ander in die finansiële mark wat meer bekommerd oor Discovery Bank moet wees.”

Investec Bank is as ’n spesialisbank in Suider-Afrika bedrywig en benewens finansiering en adviesdienste aan maatskappye verskaf hy ook bankdienste, lenings en beleggingsdienste aan welgestelde individue.

Die totale lenings en voorskotte op sy balansstaat het einde September R259,1 miljard beloop; 4% meer as in die ooreenstemmende ses maande.

Daarvan beloop lenings aan private kliënte R177,9 miljard (+7%). Die res is lenings aan maatskappye teen R81,1 miljard (-1,7%).

Deposito’s van kliënte was op R331,7 miljard (+7%).

Die bedryfsinkomste van die bank in Suid-Afrika het met 3% tot R6,1 miljard gestyg. Sy inkomste kom uit die volgende bronne:

  • Netto rente-inkomste het met amper 10% tot R4 miljard gestyg. Netto rente is die verskil tussen rente betaal en rente ontvang.
  • Netto inkomste uit transaksiegelde en adviesdienste het met 0,7% tot R1,07 miljard gedaal omdat kleiner transaksies deur die beleggingsbank met sakekliënte gesluit is. Die grootste deel van dié inkomste kom uit adviesdienste aan maatskappye.
  • Die inkomste uit beleggings het met meer as die helfte gedaal tot R253 miljoen weens die swakker vertoning van sy genoteerde en ongenoteerde beleggingsportefeuljes.
  • Investec Bank Beperk se deel van die wins van assosiate was 3% laer op R369 miljoen. Dit sluit hoofsaaklik sy deel van die wins van die groep se belegging in IEP Group in, waarin Steinhoff ook ’n belang het.

Die grootste gedeelte van die internasionale Investec-groep, wat ook vir Investec-batebestuur besit, se wins kom uit sy bankbedrywighede. In geheel het die bedryfswins van sy spesialisbankbedrywighede met 19% tot £245,4 miljoen gestyg danksy die goeie vertoning van sy Britse bankbedrywighede.

In Suid-Afrika het Investec Bank Beperk se bedryfswins in rand met 3,4% tot R2,5 miljard gestyg. Die nabelaste wins is laer weens ’n hoër belastingkoers in die tydperk.

Meer oor:  Investec  |  Discovery Bank  |  Discovery  |  Banke  |  Finansiële Dienste  |  Batebestuursfirmas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.