Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Invicta het nie nou geld vir dividend
Case-trekkers wat vroeër vanjaar by Northmec se uitstalling by die jaarlikse Nampo-landbouskou in Bothaville vertoon is. Northmec is deel van Invicta. Foto: Northmec

Die nywerheidsgroep Invicta gaan nie vanjaar ’n dividend betaal nie want hy moet geld opsy sit om vir ’n belastingskikking met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te betaal.

Invicta sê hy sal sy normale dividendbeleid hervat sodra kontantvloei en sy skuldverhouding verbeter het.

Invicta betaal wel ’n kontantdividend op sy voorkeuraandele van R6,17 per voorkeuraandeel. Met dividendbelasting afgetrek is dit net meer as R4,93 per voorkeuraandeel.

Die belastingdispuut wat Invicta met die SAID gehad het, is in die afgelope boekjaar geskik en Invicta het ingestem om R750 miljoen aan die SAID te betaal.

Invicta het tot op datum reeds R450 miljoen daarvan betaal, en die oorblywende R300 miljoen sal oor die volgende vier jaar betaal word. Invicta het reeds in sy finansiële state voorsiening gemaak vir R550 miljoen in vorige boekjare, en het vanjaar vir R200 miljoen voorsiening gemaak.

Volgens Invicta was die afgelope boekjaar een van sy moeilikste jare. Bykans elke sektor waarin die groep sake doen is onder erge ekonomiese druk. Die algemene swak ekonomiese toestande in Suid-Afrika en die maande van onsekerheid in aanloop tot die verkiesing in Mei het bygedra tot ’n algemene afname in die vraag na sy produkte.

Hoewel omset gestyg het, het bedryfswins van R839 miljoen in die vorige boekjaar tot R690 miljoen in die boekjaar tot einde Maart vanjaar gedaal.

Invicta in syfers:
  • Omset klim met 5% tot R10,4 mijard.
  • Wins vir die jaar styg met 21% tot R229 miljoen.
  • Wins toeskryfbaar aan gewone aandeelhouers styg met 61% tot R135 miljoen.
  • Wesensverdienste per aandeel verhoog met 93% tot R1,12.

Invicta se twee sakebedrywighede is ingenieursprodukte soos onderdele en komponente vir mynbou-, landbou- en konstruksiemasjinerie, asook tegniese dienste en oplossings in dié bedrywe; en kapitaaltoerusting - wat insluit die verspreiding van masjinerie aan die landbou-, konstruksie- en grondverskuiwingsektore. Dit sluit ook in Kian Ann Engineering in Singapoer.

Ondanks die moeilike handelsomgewing kon Invicta se ingenieursproduk-afdeling sy omset met 15% tot R5,238 miljard verhoog, veral danksy verkrygings. Dit is juis die swak toestande in die mynbou, vervaardiging, landbou en konstruksie wat goeie oornamegeleenthede gebied het. Die groep het Forge Industrial Group vir R331 miljoen gekoop wat in Suid-Afrika en Pole sake doen.

Sy kapitaaltoerusting-afdeling het gesukkel en omset was 5% laer op R4,831 miljard. Kian Ann Engineering se beter prestasie in Singapoer het gehelp om die afname te beperk.

Christo Wiese is die nie-uitvoerende voorsitter van Invicta. Sy seun Jacob is ’n nie-uitvoerende direkteur. Christo Wiese besit 37,57% van Invicta, luidens die groep se 2017-jaarverslag. Daar is nie inligting oor die grootste aandeelhouers in Invicta in die 2018-jaarverslag nie.

Die twee Wieses besit saam 26,18% van Invicta se voorkeuraandele. Saam kry die Wieses sowat R9,6 miljoen uit die jongste voorkeurdividend wat Maandag uitbetaal is. Invicta het 7,5 miljoen voorkeuraandele.

Invicta se aandeelprys op die JSE was Maandagoggend 2,6% laer op R24,01. Vyf jaar gelede was die aandeelprys op ’n hoogtepunt van R106.

    Meer oor:  Invicta  |  Christo Wiese  |  Resultate  |  Maatskappye
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.