Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Irannese motors gou in SA te koop

Motors uit Iran gaan eersdaags in Suid-Afrika te koop wees.

Die Saipa Quick van Iran sal as die Prim8 deur die Mureza-motormaatskappy in Rosslyn gemonteer en plaaslik verkoop word.

Die Mureza Auto Company, ’n motormaatskappy wat in Zimbabwe en Suid-Afrika geregistreer is, beplan om ingevolge ’n samewerkingsooreenkoms met die Iranse firma Saipa (Société Anonyme Iranienne de Production Automobile, soos in Frans geregistreer) voertuie van dié Midde-Oosterse land in Suider-Afrika te monteer en te versprei.

Luidens ’n verklaring van Mureza, wat vandeesweek op Automechanika Johannesburg bekend gestel word, sal die ooreenkoms met Saipa aanvanklik platformdeling en die verskaffing van hoofkomponente en belangrike onderdele insluit. Die uiteindelike doelwit van die maatskappy, wat deur die Verenigde Arabiese Emirate gefinansier word, is egter om voertuie vir Afrika te ontwerp en te vervaardig.

Volgens Tatenda Mungofa, uitvoerende hoof van Mureza Auto, bestaan daar ’n pryskloof tussen nuwe en gebruikte voertuie wat nou in Afrika-lande verkoop word.

“Ons wil die kloof vul met nuwe modelle wat nie veel meer kos as ingevoerde gebruikte voertuie nie, wat kwaai in sekere markte belas word. Ons wil ook saamwerk met diegene wat handel dryf met gebruikte ingevoerde motors om ons nuwe motors te verkoop. Ons sal hulle ook, waar moontlik, met versieningsgeriewe help, of anders onafhanklike diensverskaffers vestig in die lande wat ons teiken,” sê Mungofa.

“In Suid-Afrika wil ons ook ons verskeie Mureza-modelle deur handelaars vir gebruikte voertuie verkoop, pleks van deur nuwe motorhandelaars te vestig. Aanlyn verkoopstegnieke sal ook belangrik wees,”

Mureza se ambisieuse produkplan skop af met ’n herdoopte weergawe van die Irannese Saipa Quick-luikrug/kruisvoertuig, wat sy debuut op Automechanika Johannesburg by die Nasrec-uitstalsentrum sal maak. ’n Halftonbakkie, ’n sedan en ’n hoogloop- miniveeldoeler kan volg.

Volgens Mungofa is daar selfs ’n battery-elektriese weergawe vir die X200-platform (waarop die Quick gegrond is) wat deur die Suid-Afrikaanse maatskappy Energy Doctors ontwikkel word. Die volgende stap is die plaaslike ontwikkeling van ’n eentonbakkie en -paneelwa met die Tusker-modelnaam.

’n Ontwerpskets van die Tusker-eentonbakkie soos deur die Mureza Auto Company in vooruitsig gestel.

Die Prim8

Die Saipa Quick, wat in Maart 2017 in Iran bekend gestel is en nou ook na Indië uitgevoer word, sal die Prim8 (uitgespreek Primate in Engels) heet en sal aanvanklik vanuit ingevoerde boustelle in Rosslyn, Pretoria, gemonteer word. Dit sal later ook in die Willowvale-aanleg in Zimbabwe en die voormalige Hyundai-aanleg in Botswana gedoen word.

Die kompakte kruis-ryding, aanvanklik gedoop “Projek 212”, is volkome deur Saipa vanaf sy Tiba- en Saina-modelle ontwikkel, met argitektuur gegrond op die onderstel van die vorige geslag Kia Rio. Die Prim8 op skou by Nasrec is plaaslik van linker- na regterstuur omskep, maar alle toekomstige boustelle sal regterstuur wees.

Volgens Mureza word die Prim8 deur ’n viersilinder-petrolenjin van 1,5 liter aangedryf wat 87 kW lewer, maar die korrekte syfer vir die 1 503 cc-M15-enjin (soos vir die Quick aangedui) is 65 kW, met maksimum wringkrag van 128 Nm teen 4 000 r/min. Die krag word deur ’n vyfgang-handratkas of CVT na die voorwiele gestuur.

Volgens Mureza sluit die omvattende toerustingvlak vir die topmodel sleutellose toegang, ’n 7-duim-raakskerm, Bluetooth, satellietnavigasie, ’n tru-kamera, ritbeheer, parkeersensors, ’n klankstelsel, lugversorging, elektries verstelbare bestuurdersitplek, vier lugsakke, elektroniese stabiliteitsbeheer, sluitweerremme en ’n banddrukmonitor in.

Die doel is om die volledig toegeruste topmodel vir tussen R180 000 en R200 000 in die mark te sit. Die aanvanklik plaaslike inhoudsvlak is 40%, wat betekenisvol sal toeneem op die duur. en die voertuie sal deur ’n driejaarwaarborg gedek word.

Mureza Auto Company

Volgens Mungofa is Suid-Afrika die spil van die motornywerheid in Afrika en daarom het die maatskappy sy hoofkantoor en eerste monteringsaanleg hier gevestig. “Ons wil met kleiner onderdeleverskaffers saamwerk om hulle te help groei. Ons is ook op soek na plaaslike entrepreneurs om by al die fasette van die onderneming betrokke te raak,” sê hy.

“Ons wil ook graag die motornywerheid in ander Afrika-lande laat herleef en werkgeleenthede verskaf. Só wil ons sowat 1 000 werksgeleenthede in Rosslyn vestig, soos wat produksie van tien tot 33 eenhede per dag toeneem. Ons beplan om vroeg in 2020 met montering te begin.”

Die woord Mureza beteken “vlag” in Shona.

“Ons wil die vlagdraer vir ’n eie Afrika-motorbedryf wees. Soos Henry Ford se bekostigbare motors perde vervang het, wil ons ingevoerde gebruikte voertuie met goedkoop rygoed, gebou in Afrika, vervang,” sê Mungofa.

“Ons berei al drie jaar voor om ons droom te verwesenlik en het reeds heelwat mylpale bereik alvorens ons die Prim8 by Automechanika in Johannesburg kon uitstal. Afrikane wil hul voertuie besit en nie deel nie. Om ’n voertuig te besit, bewys jou sukses en ons wil op hierdie kultuur voortbou.”

Met meer as 1,5 miljoen voertuie wat jaarliks verkoop word, is Iran die grootste voertuigmark en ook die grootste voertuigvervaardiger in die Midde Ooste. Saipa is die naasgrootste voertuigvervaardiger in die land en bou voertuie van Europese, Chinese en Japannese maatskappye in Teheran, wyl ’n plaaslike ontwerp- en vervaardigingsvermoë ook ontwikkel word.

Meer oor:  Mureza  |  Saipa  |  Iran  |  Rosslyn  |  Motorvervaardiging  |  Motors  |  Motorvervaardigers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.