Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Irba beboet ouditeure vir swak werk

Die vlekkelose ouditverslae wat die internasionale ouditreus PwC en die ouditfirma Nkonki in 2014, 2015 en 2016 vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) uitgereik het, is “nie die papier werd waarop dit geskryf is nie”.

Die kenmerkende SAL-kleure sigbaar waar van die lugdiens se vliegtuie langs mekaar geparkeer staan. lFoto:

Dít blyk nadat die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) die twee ouditeure wat die oudits gelei het elk met R800 000 beboet het oor hul gebrekkige werk.

PwC het die afgelope week vrae van Rapport oor hul vergoeding vir die werk en of hulle dit gaan terugbetaal, geïgnoreer. Moneyweb het egter vroeër berig dat die twee firmas se aanstelling as SAL-ouditeurs van 2012-’13 tot 2016-’17 onwettig was en dat hulle in dié tydperk R69,7 miljoen betaal is.

Nkonki het in 2018 sy deure gesluit nadat die kantoor van die ouditeur-generaal aangekondig het dat hy nie meer van Nkonki se dienste gebruik gaan maak nie. Dít was weens die reputasieskade ná mediaberigte dat die destydse uitvoerende hoof, Mitesh Patel, sy aandele in die firma gekoop het met finansiering van Salim Essa, wat aan die Guptas verbind is.

Pule Mothibe, PwC se vennoot wat voor gevat het met die oudit, het vroeër die skoon ouditverslae voor die staatskapingskommissie probeer verdedig.

Regter Raymond Zondo, die voorsitter, het uit radeloosheid aan hom gevra: “Hoe is dit moontlik? In die lig van wat ek gehoor het, hoe is dit moontlik dat vir vier jaar of meer, jaar in en jaar uit, die ouditeure geen fout kon vind nie? Daar was ernstige onreëlmatighede aan die gang, hoe is dit moontlik dat die ouditeure dié dinge nie raakgesien het nie?”

PwC het die afgelope week nog probeer mooi broodjies bak deur te sê Mothibe en Thuto Masasa, destyds van Nkonki en nou by BDO, het ingestem tot die bevel teen hulle en die boetes omdat hulle nagelaat het om wetsoortredings in hul ouditverslae uit te lig. “Dit hoewel hulle dié gebreke onder die aandag gebring het van diegene verantwoordelik vir bestuur en nakoming by die SAL,” het PwC gesê.

BDO het bevestig dat Masasa tans die firma se nasionale hoof van adviesdienste is. “Ons was bewus van die kwessie voor die Irba voor me. Masasa se aanstelling en was tevrede dat die rol waarvoor sy in diens geneem is, nie verband hou met die Irba se bevindings nie,” het die firma Donderdag gesê. Volgens BDO sal Masasa die boete van R800 000 uit haar eie sak betaal, aangesien die firma waar sy destyds gewerk het nie meer bestaan nie.

Simon Mantell, ’n sakeman van Kaapstad wie se bakkery, Mantelli’s, self onder die gekonkel met tenders by die SAL deurgeloop het, het reeds in 2017 die klagte by Irba ingedien.

Hy sê PwC se geskerm is louter twak. Skuldeisers en werknemers maak staat op ouditverslae om te bepaal hoe stewig ’n firma staan en grond bepalende besluite daarop. Die ouditeurs het hulle en ander belanghebbendes onder die indruk gebring dat alles by die SAL klopdisselboom loop. “Dis nie ’n foutjie nie. Hulle het vir jare aaneen drooggemaak. Dit het ’n gewoonte geword.”

Mantell wys daarop dat vennote in groot ouditeursfirmas mekaar se werk hersien. “Hulle (Mothibe en Masasa) het nie alleen opgetree nie.”

PwC het aan Rapport gesê hulle is teleurgesteld dat die oudits “nie voldoen het aan die hoë standaarde wat ons vir onsself stel nie”. Die firma voeg by dat Irba geen onetiese gedrag gevind het rakende die versuim om die SAL se wetsoortredings te rapporteer nie.

Mantell sê dít is snert. “Etiek omvat alles, ook of jy jou werk ordentlik doen.”

Op ’n vraag watter stappe PwC gaan doen ná die bevindings teen Mothibe, het die firma geantwoord: “PwC stel ’n hoë standaard vir sy vennote en is daartoe verbind om kwaliteit te verbeter en diegene wat verantwoordelik is, tot verantwoording te bring. PwC het sy raamwerk vir vennote se verantwoordbaarheid op mnr. Mothibe toegepas.”

PwC het teen druktyd nie verduidelik wat op aarde dít beteken nie.

Die Demokratiese Alliansie (DA) se verteenwoordiger op die parlementêre komitee oor openbare rekeninge (Skoor), Alf Lees, het Irba se bevindings as skokkend bestempel.

Hy sê dit toon duidelike pligsversuim van die twee ouditeurs wat daarop neerkom dat die SAL se finansiële state vir die drie jaar ’n algehele klug is.

Lees sê dit slaan hom dronk dat Irba so lank gevat het om die klagte af te handel.

Mantell sê Irba het bekwame personeel, maar hulle is te min en die begroting hopeloos te klein. “ ’n Mens sou verwag dat so ’n klag teen ’n groot ouditfirma oor ’n belangrike staatsonderneming dringend afgehandel sou word.”

Hy sê belegging in die ondersoek- en reguleringsafdelings van Irba is noodsaaklik vir die regulering van die ouditprofessie.

  • 1. Versuim om belangrike wetsoortredings en gebrekkige interne beheer met betrekking tot die 2014-, 2015- en 2016-oudits te openbaar;
  • 2. Versuim om genoeg gepaste ouditbewyse oor onreëlmatige en vrugtelose en vermorste uitgawes vir die drie jaar te kry;
  • 3. Versuim om hul ouditmenings aan te pas rakende die beperking van die omvang van die oudits vir 2014 en 2015. Hulle het versuim om te verseker of daar ander maniere was om voldoende, gepaste ouditbewyse te kry.
  • 4. Met betrekking tot 2016 het hulle versuim om die aard, tydsberekening en omvang van ouditwerk van die bestuur se beskouing oor die waardeverswakking van eiendom, masjinerie en toerusting te dokumenteer en professionele skeptisisme te handhaaf. Daarbenewens het hulle versuim om hul mening aan te pas om die beperkte omvang van die oudit aan te dui, siende dat hulle nie bepaal het wat die bruikbare leeftyd en oorblywende waarde van die eiendom, masjinerie en toerusting was nie.

Hulle is elk R200 000 beboet op elk van die klagte en as deel van die straf het Irba hul name tesame met die bevindings bekend gemaak.

Hierdie berig is aangepas om BDO se kommentaar in te sluit.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Irba  |  Pwc  |  Ouditbedryf  |  Ouditeure  |  Staatsondernemings  |  Boete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.