Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Is 1 000 produkte ’n staatsgeheim?

Blykbaar weet feitlik net pres. Cyril Ramaphosa en die departement van kleinsakeontwikkeling watter 1 000 plaaslik vervaardigde produkte die regering onderneem het om van kleiner vervaardigers te koop om Suid-Afrika minder afhanklik van ingevoerde goedere te maak.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 18: President C
Pres. Cyril Ramaphosa die afgelope Donderdag tydens die repliek op sy staatsrede. Foto: Gallo Images

Boonop is kenners bekommerd oor die uitwerking wat lokalisasie op die Suid-Afrikaanse ekonomie en verbruikers kan hê.

Ramaphosa het in sy staatsrede gesê die kabinet het ’n beleidsraamwerk goedgekeur wat dié 1 000 produkte identifiseer. Dit volg nadat hy ook in verlede jaar se staatsrede verwys het na 1 000 produkte wat deur plaaslike klein-, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) vervaardig word en vir aankope deur die staat geïdentifiseer is.

Vandeesweek kon nóg die departement van kleinsakeontwikkeling (DSBD) nóg die DA wat die beleidsraamwerk in November ná ’n voorlegging in die parlement verwelkom het, ’n lys van die 1 000 produkte aan Rapport verskaf.

Die departement van handel, nywerheid en mededinging asook sakeorganisasies is ook in die duister.

Ramaphosa het gesê met die lokalisasiebeleid wil die regering Suid-Afrika se afhanklikheid van ingevoerde produkte oor die volgende vyf jaar met 20% verminder. “As ons hierdie doelstelling bereik, sal ons die produktiewe ekonomie aansienlik kan uitbrei, wat meer as R200 miljard tot Suid-Afrika se BBP kan voeg.”

Volgens die 14de weergawe van die beleidsraamwerk wat die DSBD op 18 November in die parlement voorgelê het, is die 1 000 produkte vervat in aanhangsels, maar dit is nie saam met die voorlegging beskikbaar nie.

Die departement het nie op Rapport se vrae gereageer oor of dít die finale weergawe is nie.

Die weergawe meld verskeie fases vir lokalisering en noem kategorieë van produkte soos ligte verbruikersgoedere (bv. kos en drank, skoonheidsprodukte, papierprodukte soos toiletpapier, en klere), yster- en staal-, petroleum- en chemiese produkte vir ’n herlewing in nywerheidsproduksie, en hoëvlak- tegnologiese produkte soos elektriese masjinerie en toebehore vir die konstruksiebedryf.

Dit bevat ook teikens oor plaaslike inhoud in verskillende fases. In fase 3 sal die volgende produkte 100% plaaslik aanmekaargesit word met 100% plaaslike inhoud:

  • Huishoudelike elektriese toebehore;
  • Diverse huishoudelike items;
  • Horlosies, polshorlosies en brilrame;
  • Ligte elektriese masjinerie;
  • Babagoedere soos speelgoed;
  • Tuin- en vermaaktoerusting soos grawe en tuinharke; en
  • Plastiek en plastiekprodukte.

“Hulle wil hê ons moet broodroosters 100% plaaslik aanmekaarsit. Ons gaan leer hoe dit voel om met ’n Sowjet-broodrooster te werk,” was een van die opmerkings teenoor Rapport.

Die 14de weergawe van die beleidsraamwerk gee breedvoerige planne om invoer te vervang deur onder meer hoë invoertariewe te hef, en eweneens hoë uitvoerbelasting in te stel op grondstowwe om ondernemings te dwing om dit plaaslik vir vervaardiging te gebruik.

Prof. Philippe Burger, ekonoom en visekanselier vir armoede, ongelykheid en ekonomiese ontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat, sê met ’n lokalisasiebeleid gaan die regering téén die werking van die mark in deurdat maatskappye gedwing word om plaaslike grondstowwe of produkte vir vervaardiging te koop. “Maatskappye wil die goedkoopste produkte vir insette bekom. Hoe lief jy ook al vir plaaslike produkte is, as dit nie voldoen aan vereistes vir prys en gehalte nie, gaan jy invoer.”

Die DSBD erken in die 14de weergawe van die beleidsraamwerk ’n beleid van invoervervanging kan lokalisasie laat ontspoor. Die risiko’s sluit in:

  • Duurder plaaslike produkte wat goedkoper verkry kan word van buitelandse markte weens doeltreffender produksie;
  • Produkte van swakker gehalte as plaaslike vervaardigers nie aan die nodige produkstandaarde voldoen nie;
  • ’n Gebrek aan markte om die produkte te verkoop; en
  • Onmededingendheid plaaslik en internasionaal.

Burger sê die regering kan ’n “vriendelike” lokalisasiebeleid instel waardeur hulle maatskappye sal wil aanspoor om plaaslik te koop. ’n Aggressiewer beleid is een van invoervervanging waar tariewe gehef word om plaaslike sektore te probeer beskerm.

Die goedgekeurde beleidsraamwerk staan uitdruklik invoervervanging en die heffing van hoë invoer- en uitvoertariewe voor.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê mens sal eers die amptelike weergawe van die beleidsraamwerk moet sien wat die kabinet aanvaar het, maar die 14de weergawe se uitgangspunt is klaarblyklik dat te min regeringsinmenging die rede is dat Suid-Afrika se KMMO’s sukkel en ekonomiese groei traag is.

“Die teenoorgestelde is egter die geval.”

Meer oor:  Cyril  |  Ramaphosa  |  Vervaardigers  |  Staatsrede2021  |  Vervaardiging  |  Kleinsake  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.