Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Is banke in gevaar te midde van krisis?

Banke het bitter swaar getrek te midde van die pandemie en ’n nuwe verslag van PwC wys presies hoeveel hulle verloor het.

Die hoofkantoor van drie van die vier grootste banke in die land in Kaapstad. Foto: Reuters

Die groot vier banke (Absa, FNB, Nedbank en Standard Bank) het in 2020 gebuk gegaan onder veral swak skuld van verbruikers, wat drasties toegeneem het.

Volgens Francois Prinsloo, hoof van banke en kapitaalmarkte by PwC, het banke se wesensverdienste amper verdwyn in 2020 te midde van die styging in swak skuld in die jaar.

Kredietafskrywings het in 2020 met 2,5 keer toegeneem teenoor 2019.

Dit het verdienste só geknou dat die groot vier banke se wesensverdienste nou te staan gekom het op die vlakke van 2012. Amper ’n volle dekade se vooruitgang is dus uitgewis.

Wesensverdienste het in 2020 met 48,4% getuimel tot slegs R43,6 miljard vir die vier banke saam.

Swak skuld het toegeneem tot 5,6% van banke se leningsboeke, in vergelyking met slegs 4% in die eerste helfte van 2019.

Maar die opbrengs op ekwiteit het net so agteruitgeboer.

Hierdie alombelangrike maatstaf het veral in die eerste helfte van 2020 getuimel tot vlakke van jare tevore.

Net Standard Bank en FNB het al in ’n mate in hierdie aspek herstel.

Volgens Costa Natsas, hoof van finansiële dienste by PwC, het banke wat blootstelling gehad het aan die buiteland baie beter gevaar met betrekking tot hul opbrengs op ekwiteit as die ander, aangesien buitelandse markte veel beter gevaar het as dié van Suid-Afrika.

Suid-Afrika se banke is veral weens IFRS9-rekenkundige standaarde nou bitter nou gekoppel aan die makro-ekonomiese prestasie van die land self.

En PwC wys uit dat Suid-Afrika al langer as ’n dekade agteruitgaan.

“Die kwantifisering van die binnelandse ekonomiese prestasie van 2020, soos Statistieke Suid-Afrika opmerk, is ontnugterende leeswerk. Hoewel die inkrimping van 7% in die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2020 basies ’n hartstilstand was wat aangedryf is deur krisistoestande, verminder dit nie die dalende plaaslike ekonomiese tendense wat al langer as ’n dekade heers nie.”

Wat inflasie-aangepaste Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk (BBP) per capita betref, dit het in 2014 ’n hoogtepunt bereik en dit is sedertdien aan die daal. Dit beklemtoon die mate waarin powere ekonomiese groei gesukkel het om tred te hou met die bevolkingsgroei. Suid-Afrika was gedurende 2020 vir 279 dae in die een of ander vorm van inperking wat daartoe gelei het dat die BBP per capita gedaal het tot ’n vlak wat laas in 2005 gesien is.

Die bevolking is dus nou armer as wat hulle was in die afgelope 16 jaar.

En dit het ’n regstreekse uitwerking op banke.

Maar is die banke veilig?

Plaaslike banke het deurgaans hul dividende gestaak namate die pandemie hul inkomstes en kontantbalanse beetgepak het.

Maar die slegte nuus is gelukkig vir eers beperk tot diegene wat in banke belê as bates.

Banke se deposito’s en kapitaalbalanse bly bo die minimum vereistes wat die owerhede voorskryf, en banke is dus selfs ten spyte van die pandemie nie naby aan ineenstorting nie.

As beleggings is die instansies egter besig om swaar te kry.

Maar vir nou is jou deposito’s by die groot vier veilig.

Meer oor:  Nedbank  |  Fnb  |  Absa  |  Standard Bank  |  Pwc  |  Bankdienste  |  Beleggings  |  Bankbedryf  |  Banke  |  Verdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.