Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Is Discovery se pyn nét kommer oor medies?

Nie alle ontleders is oortuig die skerp daling in die Discovery-groep se aandeelprys hou met die wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) verband wat verlede Donderdag uitgereik is nie.

Discovery se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Beleggers hou nou hul asem op vir ’n handelsoorsig oor sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie.

Sy aandeelprys het Donderdag met 8,5% tot R115,47 gedaal nadat die wetsontwerp uitgereik is en het Maandag met nog 8,4% tot R105,72 gedaal. Dit is die laagste vlak in vyf jaar.

Sy aandeelprys het Dinsdag effens gestyg; teen 11:00 was dit 1,15% hoër op R106,94.

Verskeie ontleders het Maandag gemeen die daling in sy aandeelprys hou met die NGV verband.

LEES OOK: Discovery val tot laagste in 5 jaar ná NGV-plan

Investec Sekuriteite se aandeelspan, wat gemaan het dat hulle nie die aandeel amptelik dek nie, het in ’n nuusbrief gesê die NGV is dalk deel van die probleem maar klaarblyklik nie die enigste probleem nie.

Dit kan nie die omvang van die afverkoop van sy aandele regverdig nie.

Volgens Investec Sekuriteite is daar glo sterk standpunte onder aandeelmakelaars aan die verkoopkant oor kwessies wat met Discovery se balansstaat te doen het. “Dit het ook die mark op hol gejaag en bygedra tot die verkope.”

Niemand glo werklik dat die NGV binnekort kom nie!
David Shapiro van Sasfin

Blykbaar gaan daar baie fokus op die resultate wees, wat in September uitgereik gaan word.

As dié resultate swakker as verwag is, gaan dit beleggers moontlik verder op hol jaag.

David Shapiro, ’n aandeelmakelaar en adjunkvoorsitter van Sasfin Sekuriteite, het op Maandag op Twitter gesê dis moeilik om die bron van die skerp val in Discovery se aandeelprys te bepaal. “Niemand glo werklik dat die NGV binnekort kom nie!”

Hy het later verwys na ’n verslag wat die rondte doen oor Discovery se finansiële state wat deur die beleggingsbank Macquarie uitgereik is wat moontlik bydra tot die verkope.

’n Groot deel van Discovery se inkomste en wins kom van die administrasie en gesondheidsorgbestuur van mediese skemas wat sy filiaal Discovery Health doen. Discovery Health doen ook die administrasie en gesondheidsorgbestuur van die grootste mediese fonds in die land.

Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van Discovery Health, het verlede week in kommentaar op die wetsontwerp gesê die toekomstige rol van mediese skemas is nie duidelik uit die wetsontwerp nie.

LEES OOK: Taks vir NGV ‘gaan betalers knak’

Volgens hom gaan hulle skakel met die minister om die implikasies te verstaan voordat hulle detail kommentaar gaan lewer.

Dit is omdat die wetsontwerp lui: “Sodra die NGV suksesvol geïmplementeer is soos deur die minister bepaal is deur die regulasies in die Staatskoerant te adverteer, sal

mediese skemas net aanvullende dekking mag bied vir dienste wat nie deur die NVG betaal gaan word nie.”

“Ons glo vas sodra mense bydra tot die NGV, moet hulle die vryheid hê om dekking te koop van mediese skemas vir enige gesondheidsdiens, insluitende dit wat die NGV gaan bied,” het Bloomberg gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.