Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Is Steinhoff nog ’n lopende saak?

Steinhoff se winkels doen nog fluks sake, en tog kan nóg die bestuur, nóg die groep se eksterne ouditeur waarborg dat dié kleinhandelreus oor ’n jaar nog sal voortbestaan.

pepkor
Best & Less is een van Steinhoff se meer as 40 winkelgroepe. Dis ’n Australiese winkel. Foto: Steinhoff

Die maatskappy het in die 2018-boekjaar ’n totale verlies van nagenoeg €1,2 miljard (nagenoeg R19,6 miljard in huidige randwaarde) gely, teenoor die 2017-verlies van byna €4 miljard (sowat R64 miljard volgens die wisselkoers met die uitreiking van dié resultate).

Die maatskappy het wel ’n kleinerige bedryfswins van €80 miljoen uit sy voortgesette bedrywighede gemaak, teenoor 2017 se bedryfsverlies van €150 miljoen.

Meer as €18 miljard se meubels, huisware en klere is verlede jaar in 30 lande by die 12 000 winkels van meer as 40 handelsname wat aan Steinhoff behoort, verkoop. Dit verteenwoordig verkope by al sy winkels, ook dié wat nou as beëindigde bedrywighede aangegee word.

Steinhoff besit onder meer belange in Mattress Firm in die VSA, Poundland en Harveys in Brittanje, Conforoma in Frankryk, Best & Less in Australië en winkels uit die Pepkor-stal in Suid-Afrika, wat insluit Pep, Ackermans, Incredible Connection, Bradlows en Tekkie Town.

Net by voortgesette bedrywighede het verkope met 3% tot €12,8 miljard gestyg. Dis vir die boekjaar tot einde September 2018, waarvan Steinhoff Dinsdagnag die resultate uitgereik het.

Danksy die stewige verkope sê die bestuur in die jaarverslag die groep behoort in die “afsienbare toekoms” ’n lopende saak te kan bly. Dis egter gegrond op “sekere kritieke aannames”:

  • Hofsake: Die maatskappy word deur eise van aandeelhouers en inbringers (vendors) in die gesig gestaar en word in verskeie lande deur reguleerders ondersoek. “’n Sleutelaanname vir kontantvloei is dat geen wesentlike eise of boetes teen die maatskappy toegestaan en oor die volgende 12 maande betaalbaar word nie.” Die groep en sy regsadviseurs probeer sake bestry, maar sê “wesentlike onsekerheid” bestaan oor die moontlike finansiële impak daarvan.
  • Belasting: Die groep weet steeds nie wat die uitwerking van boekhou-ongerymdhede op sy belastinglas gaan wees nie. “Dit word vererger omdat die onreëlmatighede van toepassing is op verskeie jurisdiksies, en die afhandeling daarvan sal beduidende ontleding en onderhandelinge met verskeie belastingowerhede in die onderskeie jurisdiksies vereis.” Die maatskappy hoop dat geen “onverwagse” belastingaanslag hom gaan tref nie.
  • Vrywillige sakeredding: Die proses waardeur die maatskappy sy skuld herstruktureer, is uiters belangrik vir sy oorlewing. Enige lang vertraging verhoog adviseurskoste. As die proses misluk, sal dit die groep se kontantvloei “wesentlik negatief beïnvloed”.

Die maatskappy se huidige aanspreeklikhede oorskry sy huidige bates en dié situasie “gaan langer as die afsienbare toekoms voortduur”.

“Dié feite plaas daarom groot twyfel op die maatskappy se vermoë om as ’n lopende saak voort te gaan langer as die afsienbare toekoms.

“As die groep as ’n lopende saak wil voortgaan, vereis die bestuursdireksie en bedryfsbestuur genoeg tyd om die groep te stabiliseer en waarde op bedryfsvlak te hervestig.”

Die jaarverslag sê as dit kan gebeur, kan die groep bates teen hul volle waarde te verkoop, eerder as teen ’n noodprys, ten einde skuld af te betaal of tot “beheerbare vlakke” te verminder.

“Terselfdertyd moet ’n oplossing gesoek en in werking gestel word vir die potensiële litigasie teen die groep.”

Wat Deloitte sê

Deloitte, Steinhoff se eksterne ouditeur, het vir die tweede keer vanjaar geweier om ’n ouditmening oor Steinhoff uit te spreek, nes met die 2017-resultate. Die belangrikste probleem is dat Deloitte wesentlike onsekerheid het oor of Steinhoff as lopende saak geklassifiseer kan word weens sy groot skuldlas.

Meer oor verkope

Verkope in Europa, Brittanje ingesluit, verteenwoordig sowat 57% van Steinhoff se inkomste (€7,4 miljard), verkope deur die Pepkor-groep in Afrika 33% (€4,1 miljard) en Australië en Nieu-Seeland s’n sowat 10% (€1,3 miljard).

Verkope in al dié streke het gestyg teenoor die 2017-boekjaar, maar daar is ’n paar vrot kolle.

  • Europese verkope het met 2% gestyg, met Pepkor Europa, wat Poundland insluit, ’n stewige 9% hoër. Dis egter afgerem deur die daling van 2% by Conforama en van 9% by ander Steinhoff-winkelgroepe.
  • Afrika-verkope – grootliks Pepkor – het in eurowaarde met 6% gestyg.
  • Verkope in Australasië het met net 0,3% gestyg.

Mattress Firm in die VSA word nou aangegee as ’n beëindigde bedrywigheid omdat die maatskappy sy 100%-belang in November 2018 tot 50% verminder het as deel van die sakereddingsproses van Mattress Firm.

Skuld

Steinhoff het nou €9,1 miljard se skuld. Sy netto skuldbalans het in die boekjaar met €285 miljoen gestyg.

Steinhoff sê hy is nie van plan om dié 50% te verkoop nie, maar die groep gaan Mattress Firm voortaan as ’n ekwiteitsverantwoorde belegging aangee.

Ook onder beëindigde bedrywighede val Steinhoff se vervoerfiliaal, Unitrans Motor Holdings, wat einde Maart vir ’n onbekende bedrag aan Toyota verkoop is.

  • Steinhoff se voortgesette bedrywighede se ebitda (verdienste voor rente, belasting, waardeverminderings en afskrywings) het met 13% tot €770 miljoen gestyg. Dit sou €89 miljoen minder gewees het as sy beëindigde bedrywighede se ebitda-verlies ook ingesluit is.
  • Die voortgesette bedrywighede se bedryfswins beloop €504 miljoen, ook 13% hoër. Die beëindigde bedrywighede het ’n bedryfsverlies van €233 miljoen gely.

Waardedalings

Steinhoff verminder wéér die waarde van bates met miljoene euro, maar die bedrae is aansienlik kleiner as die skokke van die vorige boekjaar:

  • Die waarde van klandisiewaarde en ander ontasbare bates daal met €7 miljoen (2017: €292 miljoen);
  • Die waarde van eiendom, aanlegte en toerusting daal met €16 miljoen (2017: €145 miljoen); en
  • Die waarde van ander bates daal met €46 miljoen (2017: €103 miljoen).

Dis ’n totale waardedaling van €69 miljoen teenoor 2017 se €540 miljoen.

Meer oor:  Pepkor  |  Steinhoff  |  Bedrog  |  Kleinhandel  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.