Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Is uiteet – maar by jou eie huis – hier om te bly?

Een van die slegste uitvloeisels van die Covid-19-inperking was dat dit die opening van nuwe restaurante en die bekendstelling van nuwe souse op winkelrakke uitgestel het.

Ook lekker: Die onopgesmukte Wimpy-burger.

Dit is nuwe restaurante wat momentum aan verkope gee, sê Famous Brands, eienaar van onder meer Wimpy, Steers, Debonairs en Mugg & Bean.

Die groep, wat Maandag sy resultate vir die halfjaar tot einde Augustus uitgereik het, sê die inperking het belangrike veranderinge versnel wat die groep beoog het, en het ook tot innovasie gelei. Die groep het spyskaarte vereenvoudig, sy apps hernuwe en tuisaflewering – sowel self as deur derdeparty-afleweraars soos Uber Eats en Mr D – uitgebrei.

Famous Brands sê die pandemie het verbruikers se gedrag verander. Baie mense is steeds ongemaklik met uiteet en tuisaflewering en self kosmaak is beslis baie gewilder. Daar is egter steeds ’n enorme hoeveelheid onsekerheid oor watter neigings sal oorwaai wanneer die ergste Covid-19-infeksies ook oorwaai en watter hier is om te bly.

Famous Brands, wat 23 verskillende restaurantgroepe met altesame 2 838 restaurante wêreldwyd het, is die land se grootste restaurantgroep. Die groep se restaurante word grootliks voorsien deur sy eie vervaardiging- en verspreidingsafdeling.

Byna die hele eerste helfte van Famous Brands se nuwe boekjaar, die ses maande van Maart tot Augustus, het in die swaarste vlakke van die staat van inperking geval.

Die impak van inperkings – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Brittanje, die Midde-Ooste en die res van Afrika – was “uiters straf”, sê Darren Hele, uitvoerende hoof van die groep.

Die grootste impak was op restaurante op vervoerroetes, in groot winkelsentrums en op dorpe wat op toerisme staatmaak. Restaurante in winkelsentrums naby mense se huis het beter kop bo water gehou.

Die groep se hoofstroomrestaurante het ook baie beter gevaar as sy spesialiteitsrestaurante, hoofsaaklik omdat hulle reeds gemik was op kitskos of vinniger kon aanpas.

In syfers
  • Bedryfswinsgrens daal tot 2,3% (2019: 48,9%).
  • Inkomste daal met 48% tot R2 miljard.
  • Bedryfsverlies van R110 miljoen gely, teenoor die vorige jaar se wins van R376 miljoen.
  • Wesensverlies van 240c per aandeel gely, teenoor 2019 se wins van 140c.
  • Geen dividend is uitgekeer nie, teenoor 90c in 2019.

   

Suid-Afrika

Verkope by al die restaurante in Suid-Afrika het met 51,2% gedaal. Die daling in verkope van hoofstroomrestaurante was 48% en van spesialisrestaurante 70,1%.

Restaurante soos Wimpy, Steers, Mugg & Bean en Debonairs, wat Famous Brands as sy hoofstroomrestaurante beskou, het steeds ’n stewige inkomste van R161 miljoen in die ses maande behaal, maar dis 58% minder as in 2019.

Die groep sê uiteraard is die verkope teleurstellend teenoor historiese prestasie, maar dis ook ’n prysenswaardige prestasie in die lig van die heersende beperkinge. Dis ook heelwat beter as die bedryfsgemiddelde wat Statistieke Suid-Afrika onlangs aangehaal het, wat daarop dui dat restaurantverkope in April 100% laer was as ’n jaar gelede, in Mei 97,7%, in Junie 87,7% en in Julie 75%.

Spesialisrestaurante

Die gesamentlike inkomste uit restaurante soos Tashas, House of Coffees en Paul het met 74% tot R25 miljoen gedaal.

Die groep is pessimisties oor die herstel van uiteet wat dalk “uitgerek en genadeloos” gaan wees. Hy waarsku ook dat die aard van die herstel sal bepaal hoe hy sy portefeulje gaan herstruktureer.

Famous Brands het reeds verskeie nisrestaurante verkoop of toegemaak die afgelope jare, insluitend Thrupps, O’Hagans en The Bread Basket.

Gourmet Burger Kitchen (GBK)

Die groep het besluit om geen verdere finansiële steun aan dié groep van 67 Britse restaurante te gee nie en het die volle waarde van sy belegging reeds in September afgeskryf.

Die groep se inkomste het met 60% geval tot R257 miljoen. Die bedryfsverlies het van R11 miljoen tot R120 miljoen opgeskiet.

GBK is intussen onder administrasie geplaas en is dus nou nie meer onder Famous Brands se beheer nie. Sy resultate gaan voortaan nie meer deel uitmaak van Famous Brands s’n nie. Die groep is ’n groot krediteur van GBK, maar vir eers aanvaar die groep dat hy niks van sy belegging in GBK sal terugkry nie.

Kleinhandel

Die groep het vanjaar vir die eerste keer afsonderlik begin verslag doen oor kleinhandelverkope nadat hy die vervaardiging van dié produkte ingekontrakteer het. Dit sluit in die slaaisouse, braaisouse, marinades en frikkadelle van Steers, Wimpy se tamatie- en mosterdsous, en Mugg & Bean-koffies.

Famous Brands sê dié stap in Oktober verlede jaar kon nie op ’n beter tyd gekom het nie. In die eerste vyf weke van die inperking was dié produkte se verkope Famous Brands se enigste inkomstestroom.

Hoewel die pandemie veroorsaak het dat nuwe produkte se bekendstelling uitgestel moes word, is die groep optimisties dat daar in die volgende paar maande goeie groei sal wees in kleinhandelverkope.

Vooruitsigte

Famous Brand sê Swart Vrydag (vanjaar op 27 November) en Desember is histories die besigste tyd vir restaurante, maar dis vanjaar baie moeilik om verbruikers se gedrag of besteding te voorspel.

“Die skoolvakansie gaan later en korter wees as voorheen, internasionale toerisme gaan waarskynlik beperk wees, en plaaslike reis- en vermaakbedrywighede gaan beperk wees omdat besteebare inkomste laer is. Voortgesette kommer oor gesondheid en veiligheid en protokolle gaan dalk ook tradisionele feestyd-bedrywighede inperk,” sê Hele.

“Ons bly bekommerd oor die swak stand van die ekonomie wat, tesame met die finansiële en sielkundige impak van die pandemie, verbruikers se diskresionêre besteding en sentiment sal inperk.”

Die groep se bestuur is wel optimisties dat die tweede helfte van sy boekjaar aansienlik beter sal wees as die eerste helfte.

 

Meer oor:  Steers  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Gourmet Burger Kitchen  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Restaurante  |  Kosgroep  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.