Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Isotoop-fabriek ly massiewe verlies
Die Atoomenergiekorporasie waar die NTP-vervaardigingseenheid gevestig is wat radioaktiewe isotope vir mediese gebruik vervaardig. Foto: AEK

NTP Radioisotopes, die afdeling van die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) wat mediese isotope vir die internasionale mark vervaardig, sal in die lopende boekjaar ’n verwagte verlies van R224 miljoen ly, het Jeff Radebe, minister van energie, in antwoord op ’n parlementêre vraag laat blyk.

NTP Radioisotopes by Pelindaba het in November verlede jaar produksie hervat ná probleme en ’n veiligheidsvoorval wat die aanleg vir die grootste deel van verlede jaar deels onproduktief gelaat het.

NTP Radioisotopes het nie enige kliënte in dié tyd verloor nie, maar sy markaandeel is ernstig weggekalwe, het Radebe in die skriftelike antwoord wat die afgelope week uitgestuur is, gesê.

Hy het op ’n vraag van die DA-parlementslid AP van der Westhuizen gesê NTP Radioisotopes het in 2018 ’n wins van R108 miljoen behaal teenoor die R184 miljoen van die vorige jaar. NTP is volgens hom vol vertroue dat hulle ondanks vanjaar se verwagte verlies hul markaandeel binne die volgende 15 maande sal heropbou. Hy kon kliënte help deur die steun van internasionale rugsteun-vennote.

Volgens Radebe het Necsa se raad tugstappe teen senior bestuur wat verantwoordelik was vir die foute by die NTP-aanleg eers gestaak en hulle eerder deur ’n beradingsproses geneem om die geïdentifiseerde foute reg te stel. Dié benadering het ’n positiewe invloed op die aanleg se prestasie gehad. Internasionale en plaaslike kenners is genooi om die veiligheidstandaarde by die aanleg na te gaan.

Dit kom te midde van die voortslepende stryd tussen Radebe en twee geskorste direkteure van Necsa wat beweer daar is ’n komplot om hul geloofwaardigheid te ondermyn. Hulle ontken ook dat Necsa tegnies bankrot is, soos wat die ouditeur-generaal onlangs in die parlement aangedui het.

Hanlie Stadler het vroeër berig die geskorste dr. Kelvin Kemm, voorsitter van Necsa, en Phumzile Tshelane, geskorste uitvoerende hoof, meen Radebe het ’n nuwe raad by Necsa aangestel bloot om hulle uit die weg te ruim sodat hy glo NTP aan ’n Amerikaanse maatskappy kan verkoop.

Necsa se nuwe direksie doen volgende week op 5 Maart verslag aan die parlement se portefeuljekomitee oor energie.

NTP is tot dusver as een van die regering se suksesverhale beskou wat staatsondernemings betref, want dit was vir jare winsgewend deur die uitvoer van isotope. Dit verdien buitelandse valuta en is die tweede grootste vervaardiger van mediese isotope wat in kankerbehandeling gebruik word.

Meer oor:  Necsa  |  Jeff Radebe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.