Billy Tom (50) is aangestel as die nuwe uitvoerende hoof en besturende direkteur van Isuzu Motors Suid-Afrika.
Hy sal op 1 Julie amptelik sy nuwe pos inneem.

Billy Tom, nuwe uitvoerende hoof van Isuzu Motors Suid-Afrika.
Hy neem oor by Michael Sacke, wat volgens die maatskappy besluit het om nuwe geleenthede na te streef.
Shigeji Sugimoto, Isuzu SA se voorsitter, sê Tom sal ’n instrumentele rol speel in die lei van die maatskappy deur die onbekende uitdagings wat voorlê.
“Covid-19 het die wêreld soos ons dit ken, heeltemal verander en dit is nou belangrik dat ons as ’n maatskappy vorentoe beweeg en erken dat ons in onbekende terrein is en dus gereed moet wees vir enige moontlikhede wat kan opduik.
“Dit sal behendigheid, buigsaamheid en die gewilligheid om dinge op nuwe maniere te doen, verg, en ons glo Tom sal sterk leiding hiermee verskaf.”
Sugimoto sê een van Tom se sterkste eienskappe is sy kliënt-georiënteerde benadering wat sal verseker dat hy ingestel is op die vinnig veranderende verwagtinge van kliënte en daarvolgens by die maatskappy se strategie sal kan aanpas. “Ons kliënte is die rede vir ons bestaan en ons moet verseker dat ons altyd hul behoeftes eerste plaas.”
Tom het sy loopbaan by Distell begin en daarna by SABMiller, Standard Bank en General Motors, en net voor sy nuwe aanstelling by Coca-Cola Suid-Afrika gewerk. Sy jongste rol was as hoofbestuurder verantwoordelik vir die uitvoer van koeldrank na die res van Afrika, Asië en Australasië.
Sugimoto het ook hulde gebring aan Sacke vir die wyse waarop hy die maatskappy gelei het.