
Een van Italtile se takke. Foto: Argief
En daar was lig! Italtile se nuwe winkels wat in beligting spesialiseer, U-Light, het in minder as ’n jaar gelyk gebreek.
Daar is nou vyf alleenstaande U-Light-winkels, elkeen met ’n unieke voorkoms, en die aanbod produkte word ook in die groep se teëlwinkels – Italtile, CTM en Top T – verkoop.
Dis een van die ligpunte in ’n stel halfjaarsyfers wat nie soos gebruiklik die ligte uitskiet nie.
Italtile as groep se omset het met net 1,4% tot R5,4 miljard gestyg vir die ses maande tot Desember vergeleke met dieselfde tyd van 2019. Kleinhandelverkope het met 4,5% gestyg, maar vergelykbare verkope (dus uitgesluit nuwe winkels) was net 1,7% hoër.
Jan Potgieter, uitvoerende hoof, sê die groep fokus steeds op interne maniere om koste te beheer en die onderneming te laat groei, in weerwil van die “uitdagende eksterne omgewing”. Daarby probeer die groep aggressief markaandeel wen deur verbruikers se koopervaring te verbeter.
Die groep is besig om winkels op groot skaal oor te doen.
Italtile sê hy het doelbewus ’n strategie gevolg om prysstygings te beperk om pryssensitiewe verbruikers tegemoet te kom.
Die groep se vervaardigingsarm, bestaande uit Ceramic Industries en Ezee Tile, se verkope het met 1,3% gestyg.
Die groep se handelswins het met 6,3% tot net meer as R1 miljard gestyg.
’n Tussentydse dividend van 23c per aandeel is uitgekeer.