Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Italtile staan sterk op 50 jaar ‘jonk’

Vyf dekades gelede het ’n Italiaanse immigrant Italtile se eerste winkeldeur in Alberton in Gauteng oopgemaak.

Personeel en klante kyk na teëls in CTM se winkel in Somerset-Wes in die Wes-Kaap. Foto: Italtile

Die maatskappy glo sy nuutste stel resultate wys hy het die toets van selfs die moeilikste tye deurstaan – grootliks danksy ’n sakemodel wat deurgaans aangepas is. Dis ook danksy die bestuur se “meedoënlose fokus op verbruikers”, sê Jan Potgieter, uitvoerende hoof.

Die maatskappy vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar nadat Gianni Ravazzotti die maatskappy in 1969 begin het.

Danksy dubbelsyfergroei het die groep se halfjaaromset vir die ses maande tot einde Desember vir die eerste keer nóg tot meer as R5 miljard gestyg en die groep nader nou ’n tussentydse handelswins van byna R1 miljard.

Die groep vervaardig teëls en ander vloerbedekkings en badkamerprodukte deur sy filiale Ezee Tile en Ceramic Industries en verkoop dit in die winkels Italtile, CTM en TopT.

In syfers
  • Omset styg met 23,2% tot R5,3 miljard
  • Handelswins styg met 35,2% tot R968 miljoen
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 12,6% tot 54,7c
  • Dividend styg met 29% tot 22c

Die ses maande tot einde Desember verteenwoordig die eerste keer dat die uitwerking van die groep se vertikale integrasie sigbaar is, maar Potgieter sê die integrasieproses duur voort.

Verlede jaar het Italtile ná ’n uitgerekte stryd met die Mededingingskommissie die reg verkry om die deel van die vervaardigers Ceramic en Ezee Tile wat hy nie besit het nie, terug te koop. Italtile besit nou 95,47% (voorheen 21%) van Ceramic en 71,54% (voorheen 46%) van Ezee Tile.

Die Italtile-groep het in die ses maande ’n netto van nege nuwe winkels oopgemaak en drie toegemaak. Hy het nou altesame 182 winkels.

Potgieter sê die druk op verbruikers, wat die mark vir huisverbeteringe nou al ’n paar jaar lank raak, duur voort. Veral die middelklas en laerinkomste-verbruikers byt die spit af.

Hoewel mense van tyd tot tyd huisverbeteringe doen, het nuwe bouwerk gestagneer.

Ondanks dié druk het verkope in die groep se winkels met 6,3% gestyg, terwyl verkope by winkels wat in dieselfde helfte van 2017 oop was, met 4,6% gestyg het. Dis ondanks betreklik lae gemiddelde prysstygings van net 2,4%.

Verkope by die groep se aanlyn winkels het altesame met meer as 40% gegroei.

CTM – wat die middelste deel van die mark bedien – kon ’n ommeswaai vergeleke met vorige resultate behaal deur verkope, wins en produktiwiteit te verhoog.

Wat die tweede helfte van sy boekjaar betref, bly die groep optimisties dat hy markaandeel sal wen.

Meer oor:  Italtile  |  Konstruksie  |  Kleinhandel  |  Aandeelpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.