Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ja, KPMG kán vervolg word vir VBS, sê Irba
KPMG se kantore in Johannesburg.

Ouditfirmas kan inderdaad aanspreeklik gehou word vir geld wat verlore gaan as hul werknemers nie hul ouditwerk behoorlik doen nie.

Volgens Bernard Agulhas, uitvoerende hoof van die Onafhanklike Reguleringsraad van Ouditeure (Irba), is dit vervat in art. 46 van die Wet op die Ouditprofessie. Dit bepaal dat ouditeurs aanspreeklik gehou kan word deur hul kliënte of derde partye wat staatgemaak het op die mening, verslag of state wat die geregistreerde ouditeur afgeteken het en op grond waarvan die kliënte of derde partye skade gely het.

Eers moet daar egter in ’n hof bewys word dat die ouditeurs se werk “kwaadwillig, bedrieglik of nalatig” was. Hofsake kan óf siviel óf strafregtelik wees.

Agulhas het navrae beantwoord na aanleiding van adv. Terry Motau SC se verslag oor VBS Mutual Bank. In dié verslag wys Motau die vinger na verskeie geoktrooieerde rekenmeesters wat na bewering deelgeneem het aan die plundery by die bank.

Die verslag self kan nie as bewysstuk in ’n hof dien nie, maar kan wel die nasionale vervolgingsgesag help met sy ondersoeke. Dis reeds aan die Valke oorhandig.

Die hoofverdagte is KPMG se leidende ouditeur by VBS, Sipho Malaba (volledige name Nhlanhla Kevin Sipho), wat glo willens en wetens die bank se 2017-oudit afgeteken het, al is hy gewys daarop dat dit lyk of R700 miljoen kontant “verdwyn” het.

Malaba het ook persoonlik voordeel getrek deur die toestaan van lenings vir motors, ’n huis en ’n oortrokke gerief van miljoene rande.

Lees ook: KPMG-vennoot ‘leef lekker danksy VBS’

Malaba, wat in Maart by KPMG bedank het toe sy belangebotsing en beweerde bedrog aan die lig gekom het, word nou deur adv. Dali Mpofu SC verteenwoordig en wil die forensiese verslag in die hof laat betwis.

Mpofu is die voorsitter van die EFF, wat self onregstreeks by die VBS-verslag betrek is, en verteenwoordig ook vir Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, in sy dissiplinêre verhoor.

Die verslag beveel aan dat KPMG aanspreeklik gehou word vir die verliese wat die twyfelagtige oudits veroorsaak het. Dit is benewens die aanbeveling dat individue wat betrek is, strafregtelik vervolg word en dat beslag gelê word op enige bates wat onregmatig met VBS-geld gekoop is.

Volgens Agulhas sal die omvang van die skadevergoeding wat ná skuldigbevinding aan ’n ouditeur opgelê word, ook deur die hof bepaal word.

Agulhas kon nie bevestig of ’n Suid-Afrikaanse ouditfirma al vantevore vir skadevergoeding met betrekking tot oudits aanspreeklik gehou is nie. Irba doen slegs ondersoeke en is nie by die hofsake betrokke nie.

Agulhas sê daar is ook die moontlikheid dat baie sake nooit in die hof self land nie, maar buite die hof geskik word. Ouditfirmas neem professionele kwytskeldingsversekering uit om hulle teen eise te beskerm.

Volgens die Motau-verslag kan bewys word dat nagenoeg R1,9 miljard by VBS geplunder is, maar hy vermoed dat selfs meer geld weg is.

Meer oor:  Kmpg  |  Vbs  |  Vbs Mutual Bank  |  Bernard Agulhas  |  Staatskaping  |  Bedrog  |  Irba  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.