Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ja vir SAL-plan - wat nóg R55,8 m. kos
Nóg vakbonde het aangedui dat hulle die skeidingpakkette van die SAL sal aanvaar. Foto: Bloomberg

Die meeste vakbonde wat werkers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) verteenwoordig, het ingestem om skeidingspakkette te aanvaar.

Dit is egter op die voorwaarde dat die SAL nie net 1 000 werknemers in diens moet hou soos wat die sakeredders in hul plan voorstel nie, maar dat ’n verdere 1 000 vir ’n jaar in diens moet bly waartydens hulle aan ’n vaardigheidsprogram sal deelneem.

Gedurende dié 12 maande, moet die SAL elke maand R4 650 tot hul mediese- en pensioenfonds bydra en ook ’n bydrae tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) maak.

Die SAL moet die werknemers ook bystaan om by die WVF se Ters-skema vir finansiële steun aansoek te doen. Soos met gewone WVF-voordele, word net ’n maksimum van R6 730 per persoon uitbetaal sou dit goedgekeur word.

Die bydrae wat die SAL egter onderneem om te betaal sal ’n verdere R55,8 miljoen beloop. Dit is bo en behalwe die R2,277 miljard wat die lugdiens onderneem om aan skeidingspakkette te betaal.

Luidens ’n tabel wat die departement in ’n verklaring gee, beloop die gemiddelde pakkette wat aangebied word, tussen R351 209 en R1 960 068 per persoon. Die bedrag van R1,96 miljoen per persoon word aan vlieëniers aangebied, terwyl laer bedrae aan ander personeel aangebied word.

Die departement het voorheen gesê dat Solidariteit, die National Transport Movement, die vervoerwerkersvakbond Satawu, die Aviation Union of Southern Africa en verteenwoordigers van werkers wat nie vakbondlede is nie, reeds laat weet het dat hul lede bereid is om die pakkette te aanvaar. Noudat die aanpassing gemaak is, het Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) óók gesê dat hulle die aanbod sal aanvaar.

Luidens die departement, het die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) egter nie aangedui het of die pakkette aanvaar sal word nie.

Die departement sê in die verklaring dat Saapa se lede het ’n vergadering oor pakkette dié week bygewoon, maar wil nou eers met die sakeredders in gesprek tree voordat ’n besluit geneem word.

Kaptein Grant Back, woordvoerder vir Saapa, sê egter later Woensdag in 'n verklaring, dat hulle dit duidelik gestel het in die vergadering wat op 7 Julie met vakbonde gehou is, dat hulle geen teenkanting aanteken sou die SAL of die departement vrywillige skeidingspakkette aan hul lede bied nie.

"Enige stelling deur die departement dat die standpunt van Saapa 'onduidelik' is, is nie 'n akkurate weerspieëling van ons besprekings of die uitkomste van die vergadering nie. Ons vertrou dat die departement hul onakkurate verklaring sal wysig," sê Back.

Die sakeredders het Woensdagoggend 'n kennisgewing uitgestuur om krediteure aan die vergadering te herinner. Die voorgestelde veranderinge aan die reddingsplan - soos wat deur die departement weergegee is - is ook met belanghebbendes gedeel.

Krediteure sal op 14 Julie stem of hulle die hersiene sakeplan vir die lugdiens sal aanvaar of nie.

Die departement het reeds verskeie verklarings uitgereik waarin hy waarsku dat sou die plan nié ondersteun word nie, die lugdiens gelikwideer moet word.

Hy herhaal dié versoek in 'n verklaring Woensdag en sê ook dat die regering, ter ondersteuning van die plan, "daartoe verbind om die nodige hulpbronne vir die oorgang te finansier".

  • Die artikel is aangepas sedert publikasie om die nuutste inligting weer te gee.
Meer oor:  Solidariteit  |  Sacca  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Numsa  |  Lugdiens  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.