Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jaguar se ellende lei tot rekord-verlies vir Tata Motors

Die kwynende ekonomiese groei in China wat rillings deur die sakewêreld gestuur het, het ook gelei tot die grootste rekordverlies in Indië se korporatiewe geskiedenis.

Die ikoniese handelsmerk van die luukse Jaguar-motors word hier in November 2018 gesien op ’n klassieke model van Jaguar op ’n skou in Lima, Peru. Tata Motors van Indië het dié bekende Britse handelsnaam in 2008 gekoop. Foto: Getty Images

Tata Motors se aandeelprys het vandeesweek sy grootste daling sedert 1993 gehad nadat Tata die waardasie van sy filiaal Jaguar Land Rover afwaarts aangepas het.

Vrydag teen 13:30 het die aandeelprys nog 17,88% teenoor Donderdag se sluitingsprys verloor.

Dit volg op die kumulatiewe daling van sowat 30% vroeër die week en sowat 50% oor die afgelope 12 maande.

Die aandeelprys is op die laagste vlak sedert Oktober 2011, en het Vrydag in Mumbai teen 150,15 roepees (sowat R28,80) verhandel.

Die hoofrede vir Tata, en vele ander motorvervaardigers, se probleme, is die kwynende vraag na voertuie in China – die wêreld se grootste verbruikersmark.

Die verlangsaming in ekonomiese groei in China het ’n negatiewe uitwerking op talle sektore – en in van die tegnologiebedryf tot vervaardiging voel die wêreldmarkte die impak van die laer vraag na goedere.

Tata het Jaguar Land Rover se waarde met sowat $3,9 miljard verlaag.

Maar trae verkope in China is nie al wat Jaguar Land Rover beleër nie.

Die handelsname ly ook onder die algehele skuif na skoner vervoertegnologie wat begin wegbeweeg van dié voertuie se diesel- en petrolenjins wat die kern van hul aanbiedings behels.

Nog ’n bron van kommer is Jaguar Land Rover se groot vervaardigingsbedrywighede in Brittanje, wat dus groot blootstelling het aan die lotgevalle van Brexit.

“Jaguar Land Rover het groot probleme, waaronder geopolitieke onsekerheid en tegnologiese ontwrigting, bo en behalwe die swak vraag uit ’n sterk mark soos China,” sê Debjit Maji, ’n ontleder by Stewart & Mackertich Wealth Management in Kolkata, Indië.

“Dit sal vir Jaguar Land Rover katastrofies wees as Brittanje ’n Brexit sonder enige ooreenkoms tegemoet gaan.”

Tata sê hy is besig om sy Chinese bedrywighede te hersien. Hy skaal aflewerings af ten einde voorraad te verminder. Tata het ook sy kommersiële beleid verfyn om te help opmaak vir die verliese van kleinhandelaars, en het ook uitgebreide opleidingsprogramme ter verbetering van kliëntervaring bekend gestel.

As deel van Jaguar Land Rover se plan om ’n broodnodige $3,2 miljard se beleggings, bedryfskapitaal en winsverbeterings teen 2020 te verseker, gaan hy 4 500 werknemers aflê, het hy in Januarie aangekondig.

– Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Jaguar  |  Tata  |  Land Rover  |  China  |  Indië  |  Motorvervaardigers  |  Motorverkope  |  Motorhandel  |  Aandeelpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.