Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jan Taks nou op Gupta-firma se spoor
Ajay en Atul Gupta. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wil niks meer sê oor die jongste berigte oor die omstrede Gupta-familie se belastingsake nie.

’n SAID-woordvoerder het laat weet die belastinggaarder lewer nie kommentaar of maak nie besonderhede openbaar oor die vertroulike belastingsake van belastingbetalers nie. Dit is ingevolge art. 69 van die Wet op Belastingadministrasie van 2011.

Dít is nadat die SAID genader is oor berigte dat hy besig is om toe te slaan op Linkway Trading, een van die vele ondernemings wat die Guptas na bewering vir geldwassery gebruik het.

Dokumente wat die nuuswebwerf Daily Maverick bekom het, wys dat die SAID ’n oudit gedoen het van Linkway se belastingsake van 2013 tot 2016.

Hierin blyk dat die besteding van meer as R25 miljoen aan die omstrede Gupta-troue by Sun City in 2014 as ’n besigheidsuitgawe in Linkway se state aangeteken is. Hy het dit dus benut om sy belastingaanspreeklikheid te probeer verminder.

Die SAID het bevind Linkway het altesaam R92,1 miljoen te veel van sy belasbare inkomste probeer aftrek as uitgawes in dié belastingjare wat verband hou met transaksies met Islandsite Investment, sy eie beheermaatskappy.

Daar is ook bevind die R25 miljoen wat aan die Sun City-troue bestee is, kon nie as besteding en verliese van Linkway se belasbare inkomste afgetrek word nie, want dit is nie uitgawes wat enigsins vir die doel van handel of in die produksie van inkomste aangegaan is nie.

In ’n brief van die SAID aan Linkway van Augustus vanjaar waarsku die SAID dat hy ook die relevante boetes en rente op die bedrae gaan hef.

Volgens Daily Maverick sal Linkway bykomende belasting van sowat R80 miljoen moet betaal, nog voordat boetes en rente bykom.

Linkway is die kanaal waardeur geld wat vir die Vrede-suiwelplaas in die Vrystaat bestem was, gebruik is om vir die troue in Sun City te betaal. Die ouditgroep KPMG het Linkway se boeke gedoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.