Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jan Taks soek miljoene by firmas met Gupta-bande

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het sy mes diep begin insny by maatskappye met direkte bande met die omstrede Gupta-familie.

gupta
Ajay Gupta, een van die vier direkteure van Linkway Trading. Foto: Argief

Die SAID is in twee afsonderlike prosesse betrokke om geld uit die Chinese maatskappy CRRC en uit die plaaslike Linkway Trading te kry.

In ’n uitspraak die week van die hooggeregshof in Pretoria het die SAID dit reggekry om met behulp van ’n hofbevel te keer dat R2,76 miljard aan CRRC betaal word.

CRRC, wat geskep is toe China North Rail en China South Rail saamgesmelt het, het direkte bande met die Guptas.

Daar word beweer dat China North Rail en China South Rail omkoopgeld aan die Guptas betaal het nadat hulle kontrakte gekry het om lokomotiewe aan Transnet te verskaf.

Die Reserwebank het reeds drie jaar gelede die geld bevries “gegrond op onreëlmatige uit- en invloei vanuit ’n valutabeheerperspektief”.

Die SAID het in sy aansoek gevra dat die Reserwebank steeds nie die geld mag betaal nie totdat hy ’n belastingeis teen die maatskappy afgehandel het.

Indien dit wel betaal sou word, versoek die SAID dat CRRC gedwing word om aan hom ’n bankwaarborg vir die R2,76 miljard te verskaf.

Die SAID voer aan dat die plaaslike filiaal van CRRC die omkoopgeld aan die Guptas van sy belasbare inkomste afgetrek het.

Linkway

In nóg ’n proses het die SAID in Augustus briewe aan Linkway Trading gestuur waarin hy hom inlig dat sy belastingopgawes vir 2013 tot 2016 aangepas is.

lokomotiewe
Die tender van 2014 om 1064 nuwe lokomotiewe vir Transnet van onder andere twee Chinese maatskappye te koop, staan sentraal in talle van die ondersoeke na staatskaping. Foto: Transnet

Luidens die briewe, wat Netwerk24 gesien het, beweer die SAID dat Linkway sy belasbare inkomste R197,5 miljoen laer verklaar het as wat dit werklik was en R24,5 miljoen se belasting op toegevoegde waarde (BTW) geëis het waarop hy nie geregtig was nie.

Dié aanpassings kom neer op ’n belastingaanspreeklikheid van sowat R80 miljoen.

Die SAID verduidelik in een van die briewe breedvoerig hoe Linkway die R30 miljoen wat die Guptas destyds vir Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia se troue by Sun City betaal het as ’n “sake-uitgawe” op sy belastingopgawe beskryf het.

Linkway was juis vroeër in Desember in die nuus toe Paul Holden, ’n ondersoeker van Shadow World Investigations, ’n nieregeringsorganisasie in Londen, vir die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping verduidelik het hoe geld van die Estina-suiwelprojek deur dié maatskappy “gewas” is.

LEES OOK: Estina-projek ‘is geskep vir Guptas se geldwassery’

Die SAID sê in die briewe aan Linkway dat hy 21 dae het om appèl teen die bevinding aan te teken. Indien nie, gaan hy eis dat Linkway die geld, met boetes en rente aan hom terugbetaal.

Die SAID sê in reaksie op ’n navraag deur Netwerk24 oor dié kwessie dat hy nie kommentaar kan lewer oor die status van ’n belastingbetaler nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.