Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jayendra Naidoo wil nie meer Pepkor-voorsitter wees

Pepkor het sy aandeelhouers ingelig dat sy voorsitter, Jayendra Naidoo, hom nie beskikbaar sal stel vir herverkiesing wanneer sy termyn op 30 November eindig nie.

Jayendra Naidoo, voorsitter van Pepkor, in 2017 toe die maatskappy, wat toe nog Steinhoff African Retail (Star) geheet het, op die JSE genoteer het. Saam met hom op die foto is Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, en Ben la Grange, wat toe as uitvoerende hoof van Star gedien het. Foto: Verskaf

Hy sal wel as nie-uitvoerende direkteur aanbly.

Naidoo is sedert 2017 in die rol toe Pepkor as Steinhoff African Retail (Star) op die plaaslike aandeelbeurs genoteer is met Steinhoff as sy grootste aandeelhouer.

Hy is op 18 Augustus 2017 aangestel saam met ander direkteure soos Markus Jooste, die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Naidoo is een van die aandeelhouers in Steinhoff wat ’n groot verlies gely het met die ineenstorting van die maatskappy se aandeelprys in Desember 2017 nadat ongerymdhede met die groep se boeke aangekondig is.

Sy onderneming, Lancaster, het ook ’n eis teen Steinhoff ingestel oor die skade wat daardeur gely is.

Naidoo het in die verklaring van Pepkor gesê een van die redes vir hoekom hy hom nie herverkiesbaar stel nie sluit in die stand van ’n regsgedinge waarin Steinhoff en ’n maatskappy van hom gewikkel is, en dat dit meer gepas sal wees as ’n onafhanklike voorsitter in die komende drie jaar in die rol is.

Naidoo se Lancaster-groep het deelgeneem aan ’n transaksie waarmee aandele in Steinhoff bekom is met behulp van R9 miljard se finansiering van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK).

Einde Februarie 2019 was die bedrag uitstaande op die lening sowat R11,6 miljard met opgeloopte rente. Die lening is tot in daardie stadium glad nie gediens nie.

Naidoo het ’n jaar gelede die geleentheid gekry om by die kommissie van ondersoek oor die OBK te getuig en te antwoord op vrae wat oor die transaksie hang.

In die kommissie van ondersoek se verslag, wat vroeër vanjaar uitgereik is, is talle redes geopper vir hoekom waarskuwingsligte vir die OBK moes geflikker het oor die transaksie, insluitende dat Naidoo ’n polities blootgestelde persoon is, wat beteken het ’n deeglike noulettendheidsondersoek moes voor die transaksie plaasgevind het.

Volgens die kommissie het die OBK se beleggingskomitee en dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, nieteenstaande ’n transaksie goedgekeur wat “wesenlik een enkele individue sou verryk”.

Die kommissie het onder meer aanbeveel dat ’n regsmening verkry word oor ’n onderskrywingskommissie van R114 miljoen wat aan die Lancaster-groep betaal, is om te bepaal of dit die maatskappy toegekom het, en nie eerder aan die OBK betaal moes word nie. As dit die OBK moes toekom, moet stappe gedoen word om die geld terug te kry.

LEES OOK: Papierspoor gevra vir vet fooi van Steinhoff

Naidoo het getuig die Lancaster-groep het nie enige betalings of geld van die OBK-lening gekry nie.

Hy het gesê dié kommissie is deur Steinhoff aan Lancaster betaal, en nie deur die OBK nie.

Die kommissie het ook bevind die gedrag van Matjila was onbehoorlik rakende die transaksie omdat die beleggingsbedrag verminder is om dit moontlik te maak dat hy daaroor kon besluit.

Netwerk24 het in Maart berig die OBK het gesê hy het reeds begin met stappe in verband met die Lancaster-transaksie, en ander.

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Pepkor, het gesê Naidoo het die maatskappy se direksie sedert sy notering in 2017 gelei en het ’n sentrale rol gespeel om die maatskappy in staat te stel om ’n moeilike tydperk te navigeer, insluitende die implikasies wat vir Pepkor uit die Steinhoff-krisis voortgespruit het.

“Die maatskappy het sterker aan die ander kant uitgekom en die direksie bedank Jayendra vir sy diens en wyse leierskap tydens sy termyn as voorsitter.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Markus Jooste  |  Jayendra Naidoo  |  Voorsitter  |  Direksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.