Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jeff Radebe, ou Necsa-direkteure kom 0-0 uit hof

Die drie afgedankte direkteure van die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) het hul hofsaak teen Jeff Radebe, vorige minister van energie, gewen, maar ook nie heeltemal nie.

Dr. Kelvin Kemm, vorige voorsitter van Necsa. Foto: Felix Dlangamandla

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag beslis Radebe se aanstelling van die nuwe Necsa-direksie in Desember 2018 was onwettig en is tersyde gestel.

Die saak is aanhangig gemaak deur dr. Kelvin Kemm, vorige voorsitter van Necsa, Phumzile Tshelane, vorige uitvoerende hoof, en Pam Bosman, ’n vorige nie-uitvoerende direkteur. Die hof het bevind hul afdanking as direkteure was onwettig, maar het nie ’n beslissing gemaak dat hulle as direkteure heraangestel moet word nie.

Volgens ’n verklaring deur Kemm Maandag beteken die uitspraak wel in effek Necsa doen tans sake sonder ’n behoorlike direksie en enige besluite wat die direksie nou neem, kan wetlik hersien word.

Volgens Kemm het die vorige direksie vertroue in Tshelane as uitvoerende hoof gehad, en hulle was verbaas toe Radebe hom in 2018 skors. Die direksie wat toe deur Radebe aangestel is, het Tshelane van wanbestuur beskuldig. Maar Kemm meen van die beskuldigings teen Tshelane was kleinlik, soos dat hy ’n gholfdag vir verskaffers en kliënte aangebied het.

Die hof het egter nie Tshelane se aansoek toegestaan dat sy skorsing as uitvoerende hoof van Necsa opgehef moet word nie. Hy bly dus geskors.

Die hof het beslis dat nie een van die partye regtig suksesvol in hul saak was nie, en daarom moet elke party sy eie regskoste dra.

Kemm het verwys na vorige mediaberigte dat Radebe in die geheim met ’n Amerikaanse mediese maatskappy onderhandel het om Necsa se kernmedisyne-filiaal NTP Isotopes aan hulle te verkoop.

Maar dr. Rob Adam, wat Kemm as voorsitter opgevolg en intussen bedank het, het in Maart vanjaar in die parlement verduidelik daar was geen sprake dat NTP verkoop sou word nie.

Die energiekommentator Chris Yelland het daarop gewys die regter het nie bevind dat Radebe verskuilde motiewe gehad het nie, maar dat hy bloot haastig opgetree het om Necsa se status as instelling te probeer herstel.

Bosman het in ’n verklaring gesê Necsa het ’n prys van die ouditeur-generaal gewen vir sy rekeningkundige praktyk in die tyd toe sy oor Necsa se geldsake toesig gehou het. “Ek het erg aanstoot geneem toe Jeff Radebe my van onprofessionele gedrag en swak praktyk beskuldig het. Hy was verkeerd.”

Uit die hofuitspraak blyk dit wel dat die hof Radebe se redes vir die afdanking van Kemm en Bosman van die hand gewys het. Radebe het byvoorbeeld aangevoer Kemm het nie sy finansiële belange verklaar nie, hoewel Kemm dit op twee geleenthede gedoen het en bewyse daarvan kon voorlê.

Meer oor:  Necsa  |  Kelvin Kemm  |  Jeff Radebe  |  Krag  |  Kernkrag  |  Staatsondernemings  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.