
Edcon besit onder meer Edgars en Jet.
Die sakereddingspraktisyns van Edcon hoop om teen einde Augustus die verkoop van Jet en Edgars af te handel.
In die eerste verslag oor die vordering met die sakereddingsproses van Edcon sê die sakeredders hulle verwag die dokumente vir die versnelde verkoopsproses sal teen einde Augustus voltooi en geteken wees, onderhewig aan al die goedkeuring wat gekry moet word, soos van die Mededingingskommissie.
Edcon het middel Julie aangekondig ’n voorwaardelike aanbod is van die Foschini-groep (TFG) vir Jet aanvaar.
TFG wil die Jet-winkels waarin hy belangstel vir R480 miljoen koop.
Sowat ’n week voor dit is ’n aanbod vir sekere Edgars-winkels gekry van die kleinhandelaar Retailability af. Die groep het twee jaar gelede vir Legit by Edcon gekoop.
Die sakereddingspraktisyns het ook gesê 74% van die skuldeisers het 22 Junie ten gunste van hul hoër vergoeding gestem.
Op ’n aandeelhouervergadering het die alleeneienaar ten gunste van die ooreenkoms gestem.
Die sakereddingspraktisyns sê die ooreenkoms vir verder vergoeding is nou finaal en bindend.
’n Nuwe lys van krediteure sal in Augustus uitgereik word omdat nog eise ontvang is.