Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jet gee Foschini-groep ’n stewige hupstoot

Jet, die nuweling in die stal wat ook Foschini insluit, het die klerewinkelgroep se syfers oor Kersfees ’n enorme hupstoot gegee, selfs al het verkope by Jet self gestagneer.

Jet
Jet was ’n entstof teen TFG se daling in verkope.

Volgens ’n handelsverklaring van TFG het die groep se verkope in Afrika in die vierde kwartaal – die derde van sy boekjaar – met ’n stewige 14,7% opgeskiet. Dis danksy die insluiting van Jet, wat nog nie verlede jaar in die groep was nie.

As Jet uitgesluit word, het verkope vir die kwartaal met 0,7% gedaal, wat TFG as bevredigend bestempel in die lig daarvan dat 2019 se Swart Vrydag rekordverkope opgelewer het.

Vir die eerste nege maande van sy boekjaar het TFG Afrika se verkope met 6,6% gedaal. Dit sluit in April en Mei, toe klerewinkels in Suid-Afrika toe of net gedeeltelik oop was.

TFG, wat ook Totalsports, Markhams, American Swiss, Sterns, Duesouth, @home en ander winkels insluit, het Jet verlede jaar van Edcon, wat in sakeredding is, gekoop. Die transaksie het op 25 September in Suid-Afrika van krag geword.

Die verkryging van Jet in Botswana, eSwatini, Lesotho en Namibië het op verskillende datums in Desember en Januarie die nodige goedkeuring gekry.

Die verkryging van Jet se 382 winkels in Suid-Afrika en 43 winkels in buurlande het verseker dat nagenoeg 5 000 mense hul werk kon behou.

Die juweel in Edcon se ietwat verslaande kroon, Edgars, is deur die ongenoteerde maatskappy Retailability aangeskaf.

Die hele TFG se verkope het in die derde kwartaal met 5,5% gegroei, maar in die nege maande met 13,3% gedaal.

TFG se syfers kom nadat Truworths verlede week bekend gemaak het sy verkope in die eerste helfte van sy boekjaar, tot einde Desember, het met 8,5% gedaal.

TFG doen, soos Truworths, sake in Suid-Afrika en Brittanje, maar ook in Australië. Al drie lande beleef tans ’n verwoestende tweede vlaag van Covid-19-infeksies. In Suid-Afrika bly kleinhandelaars se deure oop, maar in Brittanje geld reeds die derde streng inperking sedert 4 Januarie, met nienoodsaaklike verkope wat net aanlyn gedoen kan word. In Australië pas elke deelstaat sy eie regulasies toe na gelang van infeksiekoerse.

Kopers skuif aanlyn

TFG se aanlyn verkope het in 2020 stewig gestyg. Dit verteenwoordig nou 12% van alle verkope wêreldwyd, teenoor 8,1% in 2019.

Aanlyn verkope vir die hele groep het in die derde kwartaal met 32,3% gegroei en vir die nege maande met 28,2%. Dit dra nou 12% tot die groep se verkope by.

Vir TFG Afrika verteenwoordig dit net 3,6% van verkope, maar dit het in die kwartaal met 114,1% opgeskiet en met 133,7% vir die hele tydperk (aanlyn verkope van klere was in April nog verbode).

TFG Afrika

Kontantverkope verteenwoordig nou 68,5% van TFG Afrika se verkope en het in die kwartaal met 36,5% gestyg. Vir die nege maande tot 26 Desember het dit met 8,5% gestyg.

Alle produkkategorieë wat TFG verkoop, het gegroei, met die uitsondering van juweliersware en grimering en parfuum.

Vir die drie maande was vergelykbare verkope net in November laer as in dieselfde maand van 2019. Dis as verkope in dieselfde winkels met die vorige jaar vergelyk word, wat dus Jet uitsluit, asook winkels wat vanjaar oopgemaak of gesluit het. Oktober se vergelykbare verkope was 5,3% hoër, November s’n 10,2% laer en Desember 0,8% hoër.

TFG Australië

Verkope het in die kwartaal met 0,4% gegroei, gemeet in Australiese dollar, ondanks streng inperkings in veral die deelstaat Victoria, wat Melbourne insluit.

Aanlyn verkope verteenwoordig nou 9,9% van alle verkope in die land nadat dit in die kwartaal met 48,2% gestyg het.

TFG Londen

In Brittanje word TFG op verskeie maniere lamgelê. Die groep het weens inperkings die afgelope nege maande sowat 40% van sy handelsure weens inperkings verloor. Daarby fokus TFG in die land veral op formele kantoordrag en aandklere – klere waarvoor daar nie juis ’n aanvraag was terwyl mense in jeans of selfs pajamas van die huis af werk en sosiale geleenthede afgestel is nie.

TFG is wel optimisties dat mense weer mooi klere gaan koop wanneer die tweede vlaag en gepaardgaande inperkings verlig word.

“Danksy ’n opgehoopte vraag na sosiale byeenkomste, insolvensies onder ons mededingers en die kostevermindering wat ons met huur en by ons hoofkantoor bereik het, is TFG Londen goed geplaas vir herstel wanneer die entstofprogram verder gevorder het.”

Verkope in Brittanje het in die kwartaal met 41,4% geval en vir die nege maande met 50,8%, gemeet in pond.

Aanlyn verkope het wel met onderskeidelik 11,6% en 5% gestyg. Dit verteenwoordig nou 57,6% van alle verkope, teenoor 30,9% verlede jaar.

Vooruitsigte

Die groep sê die handelsomgewing gaan nog lank uitdagend bly, maar hy glo sy strategiese beleggings in digitale transformasie, plaaslike verskaffingsketting en diverse handelsname sal tot sy voordeel strek.

Die groep hou aan fokus op versigtige kostebesparing en kontantbewaring.

Meer oor:  Tfg  |  Jet  |  Foschini  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf  |  Kleinhandel  |  Klere  |  Juweliersware  |  Klerekleinhandel  |  Grimering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.