Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
J&J herroep babapoeier in VSA oor asbes

Johnson & Johnson (J&J) het 33 000 bottels babapoeier van winkelrakke in die VSA verwyder.

Dit volg nadat owerhede spore van asbes in monsters gevind het wat geneem is uit ’n bottel wat aanlyn gekoop is.

Johnson & Johnson het vir die eerste keer babapoeier van Amerikaanse winkelrakke onttrek.Foto: Reuters

Dit is die eerste keer dat J&J-babapoeier weens moontlike asbesbesmetting onttrek is en ook die eerste keer dat Amerikaanse reguleerders ’n opsporing van asbes in die produk bekend maak.

Asbes is ’n bekende karsinogeen wat gekoppel is aan dodelike mesotelioom – ’n kwaadaardige soort kanker.

Die maatskappy word deur meer as 15 000 regsgedinge in die gesig gestaar oor beweringe dat sy produkte wat talkpoeier bevat kanker veroorsaak het.

Dr. Susan Nicholson, hoof van vrouegesondheid by die maatskappy, sê Vrydag dat dit “uiters ongewoon” is dat asbes in die produk gevind is. Sy sê dit was “strydig met ons toetsing tot op hede”.

Die vrywillige herroeping is beperk tot lot #22318RB-poeier wat in 2018 vervaardig en in die VSA versprei is.

J&J sê die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-administrasie (FDA) het nog ’n maand gelede geen asbes in enige van sy produkte gevind nie.

Die FDA sê in ’n verklaring die jongste steekproef is gedoen toe hy vanjaar skoonheidsprodukte vir asbes getoets het. Die administrasie sê ’n tweede J&J-babapoeiermonster van ’n ander lot het negatief vir asbes getoets.

Die FDA sê hy raai verbruikers aan om nié die babapoeier te gebruik as dit deel is van die lot wat positief vir asbes getoets het nie.

J&J sê die FDA het hom op 17 Oktober van die uitslag van die toets ingelig. Die maatskappy het reeds ’n ondersoek van stapel gestuur en hersien die vervaardigingsrekords van die lot.

Ondersoek

J&J sê hy werk saam met die FDA om die integriteit van die monster te ondersoek en om die geldigheid van die resultate vas te stel.

Nicholson sê die tipe asbes wat die FDA in die monster gekry het, is nie voorheen by die myn gevind waar J&J sy talk (die mineraal) vandaan kry nie. Sy beskryf dit as ’n smetstof wat meestal in boumateriaal en nywerheidstoepassings voorkom.

J&J sê dit is te vroeg om te bevestig of kruisbesmetting van die monster ’n vals positief veroorsaak het, of die monster uit ’n bottel met ’n ongeskonde seël geneem is en of dat dit in ’n gekontroleerde omgewing voorberei is. Die maatskappy voeg by dat hy nie kon bevestig of die getoetsde produk outentiek of vervals is nie.

Nicholson sê dit is baie belangrik dat daar ’n deeglike ondersoek uitgevoer moet word om die bron van besmetting vas te stel.

J&J gebruik sedert 2003 talk wat Imerys Talc America vir hom uit China invoer. Imerys hou vol die talk is veilig.

Kommer

Reuters het in 2018 berig dat J&J al jare lank weet daar is asbes in sy talkpoeier.

Internetrekords en bewyse in hofsake wys dat die maatskappy se talkpoeier sedert ten minste 1971 tot die vroeë 2000’s van tyd tot tyd positief vir asbes getoets het.

Volgens Reuters was die uitvoerende beamptes van die maatskappy, mynbestuurders, wetenskaplikes, dokters en prokureurs bekommerd oor die probleem en hoe om dit te hanteer, maar het hulle nie die publiek of reguleerders daarvan ingelig nie.

J&J het al herhaaldelik gesê sy produkte wat talk bevat is veilig en dat studies wys dit bevat geen asbes en dat dit nie kanker veroorsaak nie. J&J sê die FDA se toets het spore van niks meer as 0,00002% serpentynasbes in die monster gevind nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie en ander owerhede sê wat asbes betref, is daar geen “veilige hoeveelheid” nie.

Hoewel sommige mense nooit kanker ontwikkel selfs al word hulle aan asbes blootgestel nie, kan selfs klein hoeveelhede jare ná die blootstelling kanker by ander veroorsaak.

Larry Biegelsen, ’n markontleder by Wells Fargo, waarsku dat die herroeping tot nog hofsake kan lei.

Jared Holz, gesondheidstrateeg by Jefferies, sê J&J het reeds sowat $10 miljard in markwaarde verloor weens die beweringe oor asbes in sy produkte. – Reuters, verwerk

Meer oor:  Fda  |  J&J  |  Johnson & Johnson  |  Asbes  |  Babapoeier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.