Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
J&J wen wéér appèlsaak oor babapoeier
Johnson & Johnson staar steeds duisende hofsake in die VSA in die gesig oor sy babapoeier. Foto: Argief

Johnson & Johnson (J&J) het ’n vierde appèlsaak oor sy babapoeier gewen.

Die maatskappy het die afgelope week die appèlhof in die Amerikaanse deelstaat Missouri oortuig om die besluit van ’n jurie tersyde te stel dat hy $110 miljoen aan ’n vrou moet betaal wat beweer sy babapoeier het haar kanker veroorsaak.

Die intermediêre appèlhof het Dinsdag bevind dat Lois Slemp nie toegelaat moes word om haar regsgeding oor eierstokkanker in St. Louis te laat verhoor nie omdat sy ’n inwoner van Virginië is.

Die hof het dieselfde redes gegee toe hy die uitsprake vir twee ander babapoeiersake, waar daar beweer word dat die talk in die produk met asbes besmet was, tersyde gestel het.

Die uitspraak is op dieselfde dag gelewer as wat Joseph Wolk, finansiële hoof van J&J, gesê het dat dit nie nodig is om wettige reserwes opsy te sit om die meer as 15 000 verbruikersake te hanteer nie.

“As jy in dié stadium na die sake kyk wat hanteer word, is dit waarskynlik dat ons appèl suksesvol sal wees,” sê hy.

J&J het net vanjaar reeds $832 miljoen aan regskoste bestee om eise teen verskeie van sy produkte teen te staan.

Ted Meadows, Slemp se regsverteenwoordiger, sê hy gaan die hooggeregshof in Missouri vra om die intermediêre hof se uitspraak te hersien.

Die hooggeregshof het nog nie besluit of eisers van buite die deelstaat hul eise in Missouri kan indien nie.

Regter Rex Burlison het in 2017 geweier om Slemp se saak uit te gooi, omdat getuienis bewys het dat J&J ’n maatskappy in Missouri gebruik het om poeier te vervaardig. Dit was volgens hom dus ’n goeie rede om die saak in dié deelstaat te verhoor.

J&J hou voet by stuk sy produk is veilig.

“Die feite is duidelik: J&J se babapoeier is veilig, bevat nie asbes nie en meer as 40 jaar se wetenskaplike bewyse wys dat dit ook nie kanker veroorsaak nie,” sê Ernie Knewitz, ’n woordvoerder van die maatskappy, in ’n e-posverklaring.

Uitsprake

Drie uitsprake met betrekking tot die poeier wat juries in St. Louis gelewer het, is reeds tersyde gestel.

Dit is omdat die Amerikaanse hooggeregshof in 2017 bepaal het dat mense wat buite ’n sekere deelstaat woon, nie dan ’n hofsaak binne die betrokke deelstaat van stapel kan stuur nie.

Dié uitspraak is egter gelewer nadat die jurie ten gunste van Slemp beslis het.

Voorheen het Missouri nie-inwoner-eisers toegelaat om ingesluit te word in ’n regsgeding wat eisers wat binne die deelstaat woon, begin het.

“J&J se strategie om baie fokus op appèlsake te plaas, blyk te werk, al is dit op die vlak van intermediêre appèlhowe,” sê prof. Carl Tobias van die Universiteit van Richmond se departement van regte.

“Ons gaan moet sien of dié strategie op hooggeregshofvlak gaan werk,” sê hy.

Slemp, nou 64, sê sy het J&J se babapoeier en Shower to Shower poeierprodukte vir meer as 40 jaar gebruik voordat eierstokkanker in 2012 by haar gediagnoseer is.

J&J het in 2012 sy Shower to Shower-handelsnaam aan Valeant Pharmaceuticals International verkoop.

Die boete van $110 miljoen is aan J&J en Imerys Talc America, wat die talk aan J&J verskaf het, opgelê.

Imerys se Amerikaanse afdeling het in Februarie aansoek om aansoek om beskerming teen bankrotskap by die hof ingedien juis weens die duisende hofsake wat hy moet teenstaan. Dit is soortgelyk aan die sakereddingsproses in Suid-Afrika.

’n Regter hou toesig oor ’n poging om ’n skikking in die sake te bereik.

– Bloomberg

Meer oor:  Johnson & Johnson  |  Vsa  |  Babapoeier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.