Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Johann Rupert se Remgro betaal dividend

Die effek van die tweede golf van die Covid-19-pandemie het Suid-Afrika teen die tweede helfte van verlede jaar harder as verwag geslaan.

hospitaal, mediclinic
Mediclinic se wins het in die halfjaar tot einde September verlede jaar skerp gedaal weens die pandemie, en dit het gevolglik ook 'n impak gehad op die syfers van Remgro, sy grootste aandeelhouer. Foto: Unsplash

Die rimpeleffek daarvan op die maatskappye waarin Johann Rupert se beleggingsgroep Remgro belê is, is gevoel in sy halfjaarresultate tot einde Desember, met wesensverdienste per aandeel uit voortgesette bedrywighede wat met 52,7% tot 247,4c geval het.

Remgro het darem ’n tussentydse dividend van 30c per aandeel verklaar, maar dis heelwat laer as die halfjaardividend van ’n jaar gelede van R2,15.

Weens die ongekende aard van die pandemie beklemtoon Remgro dus ook dat die jongste halfjaarsyfers nie regstreeks met die ses maande tot einde Desember 2019 vergelykbaar is nie. Die wesensverdienste vir die jongste periode was 67% laer op R1,398 miljard, veral weens die bydrae van Mediclinic wat met 80,2% geval het. Remgro het 'n belang van 44,6% in Mediclinic.

Remgro kon hierdie keer boonop nie die voordeel geniet van die verdienste van die bankgroep FirstRand nie, omdat FirstRand nie meer as ’n ekwiteitsverrekende belegging gehanteer word nie maar rekeningkundig as ’n belegging teen billike waarde deur ander omvattende inkomste herklassifiseer is. Remgro het 'n belang van 4% in FirstRand.

Daar was in die vorige vergelykende tydperk R548 miljoen wat Remgro toegekom het as verdienste uit FirstRand, maar hierdie keer is niks van FirstRand se verdienste ingereken nie. FirstRand het weens die pandemie ook nie enige dividende verklaar nie. As Mediclinic en FirstRand buite rekening gelaat word, het die res van Remgro se beleggingsportefeulje wel veerkragtig presteer te midde van die pandemie, en het hul bydrae tot die groep se wesensverdienste met net 7,7% gedaal.

Remgro se ander beleggings sluit in belange in die Franse oliereus Total se plaaslike bedrywighede, die mediagroep eMedia, die drankgroep Distell, die voedselgroep RCL Foods, die logistiekedienstegroep Grindrod asook Seacom. Rupert is die voorsitter van Remgro en die beleggingsgroep het ontstaan uit die sakebedrywighede van sy pa, dr. Anton Rupert, sedert die 1940's.

Remgro se intrinsieke netto batewaarde per aandeel het oor die tydperk met 4,9% tot R161,98 gegroei. Met die aandeelprys op die JSE teen einde Desember 2020 op R96,20, beteken dit die aandeel verhandel teen ’n afslag van 40,6% op sy intrinsieke netto batewaarde, teenoor 35,3% teen einde Junie 2020.

Remgro se aandeelprys het Donderdagoggend kort ná die markopening effe gestyg en verhandel rondom R102 per aandeel.

Meer oor:  Remgro  |  Johann Rupert  |  Maatskappyresultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.