Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Johnnie Walker se belasting gou betaal

Die drankfirma Diageo gaan reeds dié maand R200 miljoen se aksyns oorbetaal wat hy aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verskuldig is.

whisky
Die drankbedryf sorg vir nagenoeg 10% van die belasting wat in Suid-Afrika betaal word, volgens Diageo. Foto: Pixabay

Dis ondanks die feit dat die drankbedryf drie maande uitstel gekry het om die aksyns vir Mei en Junie te betaal. Die vergunning is deel van die hulppakket van R500 miljard wat pres. Cyril Ramaphosa weens die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking aangekondig het.

Diageo produseer onder meer Johnnie Walker-whisky, Smirnoff-vodka, Tanqueray-jenewer en Captain Morgan-rum.

Alkoholverkope is in die eerste twee maande van die inperking verbied. Vanaf 1 Junie mag Suid-Afrikaners Maandag tot Donderdag van 09:00 tot 17:00 drank koop.

Volgens die tesourie beloop die korttermynvergunning oor aksyns nagenoeg R6 miljard.

Sibani Mngadi, direkteur van korporatiewe verhoudinge vir Diageo Suid-Afrika, sê dis belangrik dat die drankbedryf sy rol speel om die regering se inkomstetekort vir die boekjaar te verminder.

Tito Mboweni, minister van finansies, het verlede week in sy aanvullende begroting bekend gemaak dat meer as R300 miljard minder belasting ingevorder sal word as wat in Februarie begroot is. Dis omdat soveel individue en maatskappye se inkomste weens die inperking verminder het en omdat inkomste uit belasting op toegevoegde waarde weens laer verkope daal. Daarby verloor die regering miljarde se aksyns op tabakprodukte gegewe dat die verbod daarop voortsleep.

Mngadi sê nadat die uitgestelde belasting vir Mei, wat nagenoeg R200 miljoen beloop, betaal is, sal Diageo voortaan soos gewoonlik sy belastingplig nakom.

Diageo se belastingbydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie word op R4,3 miljard geraam, waarvan aksyns R3,2 miljard beloop.

“Om dinge in perspektief te plaas, die R4,3 miljard belastingplig van Diageo is byna die helfte van die jaarlikse begroting van ’n groot departement soos binnelandse sake. Die hele drankbedryf dra sowat 10% van die nasionale belastinginkomste by.”

Mngadi sê die bedryf se grootste taak in dié stadium is om die verantwoordelike verbruik van alkohol “aggressief te bevorder” en om planne in werking te stel om alkoholmisbruik – en die beserings wat daaruit voortvloei – te verminder. Dit sluit in dat programme teen drankgebruik deur minderjariges en drink en bestuur of stap (baie slagoffers van motorongelukke weens drankmisbruik is voetgangers) uitgebrei moet word.

Een van die redes wat die staat vir die aanvanklike verbod op drankverkope aangegee het, is dat dit noodgevalle in hospitale laat styg en beddens só beset word wat vir Covid-19-pasiënte nodig sou wees.

Nog ’n rede is die vermoede dat mense onder die invloed van drank nie maatreëls vir sosiale distansiëring so nougeset volg nie.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Aksyns  |  Vlak 3  |  Belasting  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Hulppakket  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.