Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jong medici kry hul eie bank
Tandartse gaan voordeel trek uit ’n finansieringsooreenkoms met Medicoop. Foto: Pixabay

Die streng vereistes van die Nasionale Kredietwet het daartoe bygedra dat medici in private praktyke sukkel met toegang tot finansiering om nuwe toerusting te koop of nuwe praktyke oop te maak.

Theuns Botha, oud-LUR vir gesondheid in die Wes-Kaap en pasaangestelde besturende direkteur van die Medicoop- koöperatiewe finansiële instelling (KFI), sê mediese beroepslui bevind hulle in dieselfde bootjie as eiendomsagente en makelaars.

Dit het die idee laat ontstaan van ’n koöperatiewe bank wat eksklusief gekwalifiseerde gesondheidsdiensverskaffers bedien. Botha sê medici sukkel met finansiering al val hulle tipies in die LSM 8 tot 10-groep en is in die algemeen goeie betalers met ’n lae wanbetalingskoers.

Medicoop het verlede jaar tot stand gekom ingevolge die Koöperatiewe Bankwet van 2007. KFI’s kry hul lisensie van die nasionale tesourie en staan onder beheer van die agentskap vir die ontwikkeling van koöperatiewe bankdienste, die CBDA, en nie die Reserwebank soos gewone banke nie.

Die CBDA is gestig om koöperatiewe banke, insluitend depositonemende en uitleenkoöperasies, te reguleer, bevorder en ontwikkel, volgens die tesourie se webblad.

Dr. Nkateko Munisi, ’n direkteur van die SA Medical and Dental Practitioners Association (SAMDPA), sê die vereniging het ’n ooreenkoms met Medicoop aangegaan om sy sowat 1 500 lede te help met finansiering.

Die SAMDPA verteenwoordig talle swart dokters of dokters wat in voorheen benadeelde gebiede werk, en vir wie finansiering deur konvensionele finansiële instellings ’n uitdaging is. In die platteland kan dit R150 000 tot R200 000 kos om ’n praktyk te open, maar in stede meer as R500 000.

SAMDPA moedig nou sy lede aan om lede van Medicoop te word.

Dr. Michelle Karl, ’n jong tandarts in Pretoria, sê om ’n praktyk te open het jy R2,8 miljoen tot R4,4 miljoen nodig afhangend van waar jy dit wil vestig.

Sy het by banke aangeklop, maar kon skaars kwalifiseer vir die helfte van die bedrag wat sy nodig gehad het.

“Ek het besluit om Medicoop se doelgerigte oplossing te probeer. Dit was ’n maklike en vinnige aansoek.”

Enige gekwalifiseerde persoon in die mediese beroep kan ’n lid word van die bank teen ’n minimum bedrag van R1 000 vir 1 000 aandele.

Die aandeelhouding word beperk tot ’n maksimum van 15% per aandeelhouer. Elke lid het net een stem. Die bank doen net sake met sy lede, soos aanbeveel deur die CBDA, sê Botha.

Lede is tipies jong dokters en ander beroepslui in die gesondheidsorgsektor wat kapitaal benodig om ’n nuwe praktyk te vestig, ’n belang in ’n bestaande praktyk te koop, uit te brei of mediese toerusting te koop waarvoor finansiële en sakesteun nodig is.

Nuut gekwalifiseerde dokters of dié uit voorheen benadeelde gemeenskappe wat praktyke wil open in hul plekke van herkoms, is ’n fokus vir Medicoop.

Botha sê dié bank fokus nou op produkontwikkeling en jaag nie soseer lede nie. Medicoop het sowat 1 500 lede.

Medicoop is betrokke by praktyk­bestuur en doen sake met maatskappye wat dokters hiermee help.

Die finansiering van die locum-bedryf word nou ondersoek. Medicoop ontwikkel ’n spesiale oplossing en enigeen wat dit wil gebruik, sal lede van die koöperatiewe bank moet word.

Batefinansiering is ook ’n belangrike fokus, sê Botha.

Die strewe is om uiteindelik ’n volledige stel bankdienste te bied.

“Ons skep ’n eiesoortige karakter vir die mediese beroep. Ons het die kennis en verstaan die somme van die koste van nuwe toerusting, die lewensvatbaarheid daarvan en hoe die opbrengs en terugbetalings kan gebeur. In dié opsig kan ons gunstiger ooreenkomste met mediese beroepslui aangaan.”

Hy sê dit is ’n voortdurende uitdaging om die regte kapitaal te bekom, en ook aan beleggers die regte opbrengs te bied.

Pleks van hope kontant, gaan Medicoop ooreenkomste vir ’n beskikbare kredietlyn met beleggers aan. Só kan hulle aandui waarvoor hulle geld gebruik moet word (soos byvoorbeeld om toerusting te koop of swart dokters te finansier wat praktyke wil open).

Volgens Botha kan iemand ’n belegging maak en ’n deel daarvan omskakel in ’n belang in die bank. Hy kan die geld aan die bank leen en ’n hoë geldmarkopbrengs verseker, of die geld beskikbaar stel vir batefinansiering en dan ’n hoër opbrengs verwag.

Meer oor:  Theuns Botha  |  Finansiering  |  Lenings  |  Dokters  |  Tandarts  |  Banke  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.