Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jooste ‘mislei doelbewus’ oor Steinhoff – hofstukke

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, word in hofstukke beskuldig van doelbewuste wanvoorstellings oor die stand van die maatskappy.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff International.

Jooste word by name genoem in die eis wat die voormalige eienaars van Tekkie Town teen Steinhoff aanhangig gemaak het.

Netwerk24 het nou vir die eerste keer dié eis en Steinhoff se verweer onder oë gehad. Die eis is in Mei ingedien en Steinhoff het sy verweer in Julie by die hof ingedien.

Die eisers is vyf maatskappye, waaronder AJVH Holdings van Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town. Al die maatskappye se geregistreerde adres is Saagmeulstraat 1, George, waar Tekkie Town se hoofkantoor is.

Die eisers en Town Investments het op 29 Augustus 2016 ’n ooreenkoms met Steinhoff gesluit ingevolge waarvan al die gewone aandele in Tekkie Town vir R3,2 miljard aan Steinhoff verkoop is.

Steinhoff het hiervoor betaal deur 43 miljoen gewone aandele aan die partye uit te ryk. Dit is in Januarie 2017 oorgedra en luidens die ooreenkoms mag hulle dit vir drie jaar lank nie verkoop nie.

Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town. Foto: Argief

Ná die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys is dié aandele nou sowat R86 miljoen werd.

Die eisers voer aan in die onderhandeling is daar op verskeie geleenthede wanvoorstellings gemaak deur Steinhoff, verteenwoordig deur Jooste, aan Van Huyssteen en Bernard Mostert, wat namens die Tekkie Town-partye opgetree het.

Mostert was jare lank aan die stuur van Tekkie Town.

Die eisers beweer Jooste het in die onderhandelinge die volgende verklaar:

  • Dat daar geen gevaar vir ’n wesenlike daling in die aandeelprys van Steinhoff is nie; die aandeel verhandel in der waarheid onder sy markwaarde.
  • Op hul voorstel dat Steinhoff hulle moet verseker dat sy gepubliseerde finansiële state korrek, billik en akkuraat is, het Jooste gesê ’n bewys is onnodig omdat Steinhoff genoteer is en sy state geoudit en gepubliseer word.
  • Dat daar ten alle tye behoorlike nakoming van alle verpligtinge ten opsigte van rekeningkundige en finansiële verslagdoening was.
  • Dat die gepubliseerde finansiële state sy bates en laste regverdig weerspieël.
  • Dat hy nie bewus was van enige feite of omstandighede wat, as dit bekend sou word, ’n negatiewe impak op die aandeelprys sou kon hê nie.

Die eisers voer aan Jooste het te alle tye geweet dat:

  • Wesenlike rekeningkundige en finansiële ongerymdhede in Steinhoff, of een of meer entiteite waarin die maatskappy wesenlike belange hou, oor verskeie jare plaasgevind het;
  • Maatskappye wat nie op sy balansstaat was nie, se inkomste op sy boeke ingesluit is.
  • Die maatskappy se finansiële posisie verkeerd in die jaarstate van 2014, 2015 en 2016 gerapporteer is en dat sy bates en inkomste (of dié van een of meer entiteite waarin ’n wesenlike belang gehou word) wesenlik vergroot is en die aanspreeklikhede wesenlik verklein is.
  • Die eisers nie bewus was van hierdie verskuilde feite nie en nie ’n manier gehad het om daarvan uit te vind nie.
  • Die inligting tot die eisers se beskikking, soos die gepubliseerde state, foutief en misleidend was.
  • Jooste geweet het die eisers maak op hom staat om eerlik met hulle te wees oor al die relevante feite, insluitende verskuilde feite.
  • Jooste geweet het as die verskuilde inligting bekend word, dit die aandeelprys sou vernietig of alternatiewelik ’n wesenlike negatiewe impak daarop sou hê.

Hulle voer aan Steinhoff, verteenwoordig deur Jooste, het geweet die verklarings is vals en misleidend en dat dit gedoen is om hulle te oortuig om die kontrak te sluit, aandele te aanvaar vir hul belang in Tekkie Town en boonop nog beperk te word om hul nuwe aandele te verkoop.

“Al hierdie gedrag, weglatings, kennis en opset van Jooste is toeskryfbaar aan Steinhoff.”

Steinhoff ontken in sy verweer al hierdie aantygings.

Die eisers wil weer in die posisie geplaas word waarop hulle op 29 Augustus 2016 – voor die sluit van die transaksie – was.

Die partye eis, indien Steinhoff nie die herstel kan bewerkstellig nie, moet die eisers vergoed word vir hul gedeelte van die totale koopsom van R3,2 miljard. Dit kom neer op sowat R1,85 miljard. Die res van dié bedrag is betaal aan die maatskappy Town Investments. Die eisers onderneem ook om hul Steinhoff-aandele terug te keer aan die maatskappy.

Vrae is per e-pos aan Jooste se prokureur, Callie Albertyn, gestuur om hom die geleentheid te bied om op die hofstukke te reageer. Albertyn het gesê hulle het geen kommentaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.