Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Markus Jooste se firma eis R4,1 mjd. van Steinhoff

’n Eis van R4,1 miljard is teen Steinhoff ingestel deur Markus Jooste se eie beleggingsmaatskappy en teen homself. Steinhoff toon in sy jongste jaarverslag wat pas uitgereik is Mayfair Speculators het 20 November verlede jaar ’n eis in die hooggeregshof in Kaapstad teen die Suid-Afrikaanse Steinhoff International (SIPHL) en die Nederlandse geregistreerde beheermaatskappy Steinhoff N.V. gebring.

Markus Jooste Foto: GALLO

Die eis is egter ook teen Markus Jooste ingestel vir skadevergoeding van R4,1 miljard, alternatiewelik R3,9 miljard en verdere alternatiewelike R719,4 miljoen.

Die eis is gebaseer op ’n geskrewe aandele-uitruilooreenkoms wat in Desember 2011 tussen SIPHL en Mayfair aangegaan is in terme waarvan 31 miljoen gewone aandele in Steinhoff vir 16,5 miljoen PSG-aandele verruil is.

Omdat dié eis ná Steinhoff se jaareinde gebring is, is dit nou die eerste keer in finansiële state aangedui. 

Mayfair Speculators se direkteure is Jooste se skoonseun Stefan Potgieter, Piers Marsden en Les Matuson.

Marsden en Matuson is beter bekend as likwidateurs en sakeredders en is in Mei 2018 aangestel ingevolge ’n reëlingskema wat Mayfair begin het om sy skuld aan krediteure terug te betaal.

LEES OOK: Jooste se skoonseun praat oor Mayfair-skuld

Jooste het in Desember 2017 bedank as direkteur van Mayfair ná sy skokbedanking as uitvoerende hoof van Steinhoff op die dag wat die groep aan beleggers onthul het dat sy geouditeerde jaarstate nie uitgereik kan word nie en ’n verdere ondersoek na rekenkundige ongerymdhede gedoen moet word.

Potgieter het navrae oor hoe Mayfair ’n eis teen Jooste kan instel, verwys na die reëlingskema se prokureur, Jan Reitz. Die berig sal aangepas of opgevolg word wanneer hy reageer.

Meer inligting oor die eis wat Mayfair ingestel het, word ook in die inligting oor die art. 155-reëlingskema uiteengesit ingevolge waarvan Steinhoff met sy eisers wil skik. 

In die besonderhede van die eis beweer Mayfair dat Jooste as uitvoerende hoof van SIHPL "veroorsaak" het dat die aandeleruiltransaksie plaasvind. 

In die eis word aangevoer dat Jooste as direkteur van Mayfair ten gunste daarvan gestem het en dat Potgieter, as direkteur,  deur hom en SIHPL aangespoor is om ten gunste van die transaksie te stem op grond van onder meer die feit dat die maatskappy se finansiële state akkuraat en ’n billike weerspieëling van sy finansiële sake was. 

Steinhoff sê die eis word betwis weens die feit dat Jooste albei partye verteenwoordig het in die transaksie, asook op grond van die rol wat hy in die gebeure by die groep gespeel het. 

Steinhoff hanteer nou vir Mayfair as ’n voorwaardelike skuldeiser van die art. 155- reëlingskema. Mayfair kry dus ook ’n kans om te stem by die reëlingskemavergaderings.

Mayfair kom in aanmerking vir 29c uit ’n rand as die reëlingskema goedgekeur word.Volgens Steinhoff sal die geld opsygesit word ingeval Mayfair ooit suksesvol is met sy eis.

Nog 'n eis gebring

Die totale eise wat sedert einde 2017 teen Steinhoff ingestel is, beloop reeds R136 miljard. Die groep is in die proses om met eisers te skik. 

Steinhoff se jaarstate toon ook nog ’n nuwe eis wat in November teen hom ingestel is. Die eis is deur Mantessa Equities in die hooggeregshof teen SIHPL gebring vir R206 miljoen.

Die direkteur van Mantessa is Hendrik van der Merwe Scholtz, luidens die onderneming se inligting op Windeed.

Die eis spruit voort uit Steinhoff-aandele wat bekom is.  Skadevergoeding word geëis op grond van beweerde wanvoorstellings in die finansiële verklarings.

Die eis en die eis van Mayfair word deur Steinhoff verdedig.

Afskrif van forensiese verslag gevra

Die jaarverslag toon ook drie hofsake wat sedert laat 2019 gebring is om 'n afskrif van die forensiese verslag van PwC oor die ongerymdhede met Steinhoff se boeke te bekom.

Die een aansoek is deur Tiso Blackstar (’n mediahuis in Suid-Afrika) teen Steinhoff N.V. gebring. Nog ’n aansoek is op 6 Desember 2019 van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ontvang, terwyl Jayendra Naidoo, voormalige voorsitter van Pepkor, op 6 Januarie vanjaar ’n aansoek gebring het om toegang tot die PwC-verslag te kry.

Sy aansoek is op 18 Februarie afgewys.

Meer oor:  Tekkie Town  |  Gepf  |  Obk  |  Hofgeding  |  Steinhoff  |  Eis  |  Bedrog  |  Markus Jooste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.