Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jooste se Mayfair mag nou dié aandele verkoop
Woensdag was die eerste keer dat Markus Jooste in die openbaar oor die gebeure by Steinhoff gepraat het. Foto: Jaco Marais

Markus Jooste en sy skoonseun, Stefan Potgieter, het dalk nou een minder wolf voor hul deur.

Regter Seun Moshidi van die hooggeregshof in Johannesburg het Vrydag beslis dat Mayfair Holdings sy aandele in die maatskappy Lodestone Brands per veiling mag verkoop.

Jooste het die hofsaak vantevore in ’n WhatsApp-boodskap ’n “tydelike probleem” genoem.

Lees ook: Jooste ‘dreig’ sakevriend met WhatsApp

  • Mayfair Holdings is ’n beleggingsbeheermaatskappy wat Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, ingespan het om onder meer perde te koop. Jooste het egter in Desember, nadat die bom oor Steinhoff gebars het, as direkteur van Mayfair bedank. Potgieter is nou die enigste direkteur van dié maatskappy.

Mayfair skuld banke altesame meer as R2 miljard vir lenings wat opgeroep is omdat Steinhoff se aandeelprys so skerp geval het. Aandele in Steinhoff is as sekuriteit vir die lenings aangebied.

Om sy skuld te delg, het Mayfair reeds perde en ander bates verkoop. Die skuld moet voor die einde van die jaar afbetaal word.

Vier van Lodestone se minderheidsaandeelhouers het egter in Mei ’n hofaansoek ingedien om te keer dat Mayfair sy Lodestone-aandele opveil. Hulle het aangevoer dit sal die prys opjaag en dit vir hulle onmoontlik maak om self die aandele te koop.

Omdat hulle nie “die werknemer van ’n ander meester” wil word nie, sal dié situasie hulle gedwonge laat voel om ook hul eie aandele te verkoop, het hulle aangevoer.

Links is Stefan Potgieter, Markus Jooste se skoonseun, wat tans die enigste direkteur van Mayfair is, en Derek Brugman, Mayfair Speculators se perdebestuurder, in 2016 by die Durban July.

Die minderheidsaandeelhouers sluit in Greg Senior, wie se pa, Darryl, die lekkergoedmaatskappy Mister Sweet in 1971 gestig het. Dié maatskappy is later deur Lodestone uitgekoop, maar Greg is steeds ’n direkteur.

Lodestone is die eienaar van onder meer Rascals-lekkers en Fusion-koeldrank.

Die aansoek is teen Second Chapter Investments (SCI), Lodestone, Mayfair Holdings, Mayfair Speculators, Standard Bank en vier ander maatskappye ingedien.

SCI is die meerderheidsaandeelhouer van Lodestone, met ’n belang van 66,7%. SCI het op sy beurt twee aandeelhouers: Mayfair (78,37%) en SCI P1 (21,63%).

Standard Bank is as respondent genoem omdat die bank aangestel is om die Lodestone-aandele op te veil.

Standard Bank het teen begin Mei reeds 24 kopers vir die aandele gehad.

Adv. Chris Eloff, namens die aansoekers, het aangevoer Lodestone is op ’n “groeipad” en as die minderheidsaandeelhouers “gedwing word” om hul aandele te verkoop, sal hulle nie voordeel trek uit die maatskappy se finansiële groei nie.

“Die dividend sal oor vyf jaar sy maksimum haal. Dis bitterlik onregverdig om die aansoekers nou te dwing om hul belang te verkoop.”

Moshidi het bevind Lodestone moet self die koste van die aansoek dra.

Meer oor:  Steinhoff  |  Lodestone  |  Mayfair  |  Markus Jooste  |  Stefan Potgieter  |  Lekkers  |  Kleinhandel  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.