Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jooste se skoonseun praat oor Mayfair-skuld

Die skuldeisers van Mayfair Speculators, die beleggingsvoertuig van Markus Jooste se familie, het ingestem om sy skuldplan te verleng.

Stefan Potgieter, Jooste se skoonseun en ’n direkteur van Mayfair, het vandeesweek ná maande uiteindelik sy stilte verbreek en gereageer op navrae wat aan hom en sy mededirekteure gestuur is.

Links is Stefan Potgieter, direkteur van Mayfair Speculators, sy skoonma, Ingrid Jooste, sy vrou, Andrea, en haar suster (naam onbekend).

Mayfair Speculators en sy beherende maatskappy, Mayfair Holdings, het vroeër vanjaar kragtens art. 155 van die maatskappywet ’n reëlingskema aan sy krediteure voorgestel. Dit is aanvaar en op 12 April deur die hof bekragtig.

Netwerk24 het voorheen berig die Mayfair-maatskappye skuld amper R1 miljard aan drie leners, naamlik Sanlam, Investec en Absa. Ondergeskikte skuld van nog R1,4 miljard is ook ter sprake.

Potgieter sê die twee reëlingskemas – een vir Mayfair Speculators en een vir Mayfair Holdings – maak voorsiening vir wysigings aan wanneer kontant wat uit die verkoop van bates gekry is, oorbetaal moet word, indien so ’n wysiging deur meer as 50% van die betrokke krediteure gesteun word.

Die reëlingskemas sou aanvanklik einde Desember ten einde geloop het. Maar hulle het op 7 September met die krediteure vergader oor sekere wysigings daaraan. Dié wysigings is aanvaar.

Die wysigings is tweërlei – die sperdatums waarop die bates gerealiseer moes word, is verleng en verskeie bepalings van die dispuutresolusieprosesse is verander.

“Die wysigings is van ’n praktiese aard en verander glad nie die wese van die skemas nie,” sê Potgieter.

Hy wou nie uitwei oor die verlengingsdatum nie omdat hulle op die hof wag om dit te bekragtig.

Netwerk24 het vrae gestuur aan Potgieter en ook aan Les Matuson, wat in Mei as ’n nie-uitvoerende direkteur van die Mayfair-maatskappye aangestel is. Potgieter het op hierdie vrae gereageer.

Hy sê die reëlingskemas het die aanstelling van nie-uitvoerende direkteure in die vooruitsig gestel om te help met die toepassing van die skemas, asook om korporatiewe beheer te versterk.

Die aanstelling van Les Matuson en Piers Marsden as direkteure saam met my in albei Mayfair-entiteite is deur al die krediteure ondersteun.
Stefan Potgieter

“Die aanstelling van Les Matuson en Piers Marsden as direkteure saam met my in albei Mayfair-entiteite is deur al die krediteure ondersteun.”

Markus Jooste het in Desember bedank as direkteur van Mayfair nadat hy as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank het.

Potgieter sê hulle is daartoe verbind om met alle regulerende instellings saam te werk. “Intussen is dit ons doel om die skema suksesvol te toe te pas tot voordeel van alle belanghebbendes.”

Hy sê ook Mayfair onderhandel steeds met verskeie partye wat belangstelling toon in Mayfair se belang in Lodestone. Lodestone besit lekkergoedmakers soos Mister Sweet en Rascals en die toffies Champion, asook Cuddlers-babaprodukte.

’n Aansoek van minderheidsaandeelhouers om ’n interdik te kry teen die verkoop van Mayfair se belang in Lodestone op ’n veiling, is verwerp.

Lees ook: Jooste se Mayfair mag nou dié aandele verkoop

Netwerk24 het vroeër die week berig Mayfair besit nog enkele renperde in Suid-Afrika nadat inligting hieroor ontvang is. Potgieter sê egter al Mayfair se renperde in opleiding in Suid-Afrika is verkoop. Daar is nog ’n handvol perde wat in Frankryk, waar Mayfair ook ’n maatskappy het, verkoop word.

Lees ook: Meeste van Jooste se 500 perde al verkoop

Mayfair het altesame 500 perde in opleiding en vir teeldoeleindes besit.

Meer oor:  Steinhoff  |  Mayfair Holdings  |  Lodestone  |  Mayfair  |  Stefan Potgieter  |  Markus Jooste  |  Kleinhandel  |  Perde  |  Kleinhandelaars  |  Perdewedrenne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.