Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jooste se Groot Gat op Hermanus moet weg

Die tamaai gat op die groot see-erf op Hermanus waar Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, ’n huis wou bou, sal eersdaags toegegooi moet word.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, verlede week in die parlement. Foto: Jaco Marais

Volgens Coenie Groenewald, munisipale bestuurder van die Overstrand-munisipaliteit, moet die perseel gerehabiliteer word. “Ons is besig om per geregistreerde pos met die eienaar te kommunikeer.”

Die bouwerk op die erf van 7 441 m² is in Desember gestaak. Begin Maart is ’n aansoek van die raadgewende ingenieurs wat by die bouwerk betrokke was om die maatskappy Erf 2825 Hermanus (Edms.) Bpk. te likwideer, afgeweer toe die partye geskik het. Die maatskappy besit hierdie erf en die eis het verband gehou met werk wat reeds op die erf gedoen is.

Lees ook: Wat gaan nou met Jooste se reuse-erf gebeur?

Die bouplanne het in Julie verval en die eienaar het tot 24 Desember 2018 om die eiendom te rehabiliteer.

’n Eienaar wat nie sy perseel laat rehabiliteer nie, kan beboet word.

Lees ook: Meeste van Jooste se 500 perde al verkoop

Na verneem word, is ongeveer 5 000 m³ grond reeds uit die erf verwyder voordat die bouwerk gestaak is. ’n Dubbelverdiepinghuis sou daar gebou word.

Jooste besit blykbaar deur die maatskappy Erf 2825 talle eiendomme op Hermanus, waaronder dié erf en die wooneiendom wat voorheen aan wyle dr. Anton Rupert behoort het.

Jooste was tot 7 Desember ’n direkteur van Erf 2825, ’n dag nadat hy ook as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank het.

Sy skoonseun, Stefan Potgieter, is steeds ’n direkteur van Erf 2825.

Vrae oor die toekoms van die erf is vroeg Woensdagoggend aan Potgieter gestuur. Hy het gesê hy sal later in die week reageer. Die berig sal bygewerk word sodra sy antwoord ontvang is.

Die betrokke erf is erf 12257. Dit was aanvanklik deel van ’n groter erf 1233, wat in drie erwe onderverdeel is. Twee van dié erwe is deur Jooste-hulle gekoop en in erf 12257 gekonsolideer.

Die munisipaliteit ontken dat ’n aansoek ontvang is om dié twee erwe weer te skei sodat een verkoop kan word. “Indien daar so ’n aansoek is, sal ’n proses van openbare deelname gevolg word om die publiek van die aansoek in kennis te stel.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Stefan Potgieter  |  Hermanus  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.