Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Jooste se vriend bedank as baas van perderen-groep
Rian du Plessis, uitvoerende hoof van Phumelela, het na tien jaar aan die stuur van die groep Dinsdag bedank.

Rian du Plessis, die uitvoerende hoof van die perdewedren-groep Phumelela Gaming and Leisure, sê sy bedanking kort voordat die jaarresultate uitgereik word is nie ongewoon nie.

Hy het ná tien jaar aan die stuur van die maatskappy bedank. Sy bedanking geld van Maandag af.

Phumelela het met die sluiting van die mark Dinsdag aangekondig hy het sy bedanking aangebied.

John Stuart, die huidige uitvoerende direkteur van internasionale bedrywighede, sal hom opvolg.

Stuart word beskryf as iemand met meer as 39 jaar se ervaring in die perdewedren- en dobbelbedryf.

Vort voor resultate

Die maatskappy se finansiële jaarresultate tot einde Julie word 5 Oktober uitgereik en Stuart gaan dit behartig.

Dit is ’n ongewone stap vir ’n uitvoerende hoof om so kort voor die finansiële resultate te bedank.

Du Plessis het per WhatsApp gereageer op die vraag om kommentaar te lewer daaroor: “Daar is niks ongewoon aan my bedanking nie. Die resultaat-aankondiging is ongeveer 10% ’n terugblik op die afgelope jaar en 90% op die pad vorentoe. Dit is gepas dat die nuwe bestuur die pad vorentoe hanteer.”

Phumela se wins het met die halfjaar tot einde Januarie stewig met 25% tot R84,8 miljoen gestyg. Die maatskappy het in die halfjaar ’n inkomste van R808,6 miljoen verdien. Die grootste deel daarvan kom uit weddery.

Du Plessis het herhaal sy bedanking is oor persoonlike redes. “Phumelela is in goeie hande met John Stuart en sy span aan die stuur. Ek vertrou hulle ten volle en sal John met ’n ordelike oorhandiging bystaan.”

Groot belang

“Ek het onlangs aandele gekoop en ek en my familie besit tussen 5% en 6% van die maatskappy. Ons glo in die bestuurspan en die maatskappy en stel geensins belang om ons aandele te verkoop nie.”

Du Plessis was ’n groot koper van aandele die afgelope maande. Hy het so onlangs as einde Julie nog deur sy maatskappy Lotus Good Investments 50 000 aandele teen R699 265 aangekoop. Lotus was einde Augustus die vyfde grootste aandeelhouer met 3,9%, toon die finansiëledienstemaatskappy Iress. Dit is nie bekend watter ander maatskappye aan sy familie behoort nie.

Die vier grootste aandeelhouers bo hom is:

  • The Thoroughbred Horse Racing Trust met 27,2%
  • Kalamojo Trading and Investments 9,4%
  • Ihh Company met 8,7%
  • Yerranzano Property Investments met 4,4%

Dit is bekend dat Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van die Steinhoff-groep, ’n groot aandeelhouer in Kalamojo was saam met Bernard Kantor, die besturende direkteur van Investec, wat ook ’n bekende in perdewedrenkringe is. Dit is nie bekend of Jooste nog ’n belang hou nie.

Vriende met Jooste

Dié foto verskyn op die webtuiste van Capethoroughbredsales waarin Mayfair van Markus Jooste 'n belang hou. Die foto is geneem by Augustus 2016 se Equus-toekennings. Van links is Rian du Plessis van Phumelela, Pippa Mickleburgh, die perd Legal Eagle se teler, Sean Tarry, sy afrigter, en Markus Jooste, sy mede-eienaar in daardie stadium. Jooste het die perd saam sy vrou, Ingrid, besit.

Du Plessis het in Mei aan Netwerk24 gesê hy en Jooste is vriende. Hulle het in 1979 as studente aan die Universiteit Stellenbosch ontmoet. “Ons en ons gesinne is sedertdien baie goeie persoonlike vriende.” Du Plessis het kommentaar gelewer nadat hy as verteenwoordiger van Jooste se familietrust aangestel is. Die familietrust is die grootste aandeelhouer in die Mayfair-maatskappye wat op groot skaal in die perdetelery- en wedrenbedryf betrokke was.

Mayfair het, nadat ’n skuldplan met sy skuldeisers ooreengekom is na die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys, van al sy perde in Suid-Afrika ontslae geraak. Lees hier: Meeste van Jooste se 500 perde verkoop

Jooste was ook sedert einde 2005 tot Desember 2017 ’n direkteur van Phumelela. Nadat hy by Steinhoff bedank het, het hy as direkteur by verskeie maatskappye bedank onder meer ook Mayfair en Kalamojo.

Onwentelinge

Klaarblyklik is daar groot omwentelinge op pad in die perdewedren en -wedderysektor.

Die direksie van Phumelela het middel Julie aangekondig “daar was aanvanklike konseptuele gesprekke met rolspelers bedrywig in perdetelery en die Thoroughbred Trust oor die administrasie van perdewedrenne en weddery”. Indien die planne suksesvol is, gaan dit lei tot ’n “verandering in eienaarskap in die administrasie van perderenne, en/of weddery, en/of die herstrukturering” van die bedryf.

“Die herstrukturering is baie kompleks en sal verskeie goedkeurings en skakeling met baie in die bedryf en met beheerliggame benodig.”

Daar is gesê dit sal sowat drie maande duur om tot ’n ooreenkoms te kom. Dit was kort na ’n direksievergadering en ’n aankondiging dat talle nuwe onafhanklike nie-uitvoerende direkteure aangestel is.

Die direksie het Du Plessis bedank vir sy diens die afgelope dekade.

“Hy het die ontwikkeling van ’n gesofistikeerde onderneming gelei met vele inkomstestrome en het ’n bestuurspan gevorm wat die langtermynstabiliteit en -groei kan ondersteun.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Mayfair  |  Markus Jooste  |  Uitvoerende Hoof  |  Perdewedrenne  |  Bedank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.