Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
JSE beboet Steinhoff-filiaal met R1 miljoen

Die JSE het Steinhoff Investment Holdings (SIH) Dinsdag beboet omdat hy die mark nie ingelig het van sy afgradering deur Moody’s Investors Service nie.

Steinhoff se hoofkantoor in Stellenbosch.

SIH se primêre notering is op die JSE (onder die kode SHFF), anders as die notering van Steinhoff International, wat sy primêre notering in Frankfurt, Duitsland, het. Dit bestaan egter net uit voorkeuraandele, waarvan die verhandeling in Maart opgeskort is omdat die maatskappy se jaarresultate nie binne vier maande uitgereik is nie.

SIH is as filiaal van Steinhoff International betrokke by die vervaardiging en verspreiding van meubels en huishoudelike goedere en lewer ook dienste soos verspreiding, berging, vervoer en logistiek aan verskeie sektore.

Die JSE sê sy noteringsvereistes vereis maatskappye om sonder enige vertraging ’n aankondiging te doen met besonderhede as enigiets gebeur wat, regstreeks of onregstreeks, ’n impak op die aandeelprys kan hê.

Moody’s het SIH op 7 Desember met vier vlakke afgegradeer, van Baa3 tot B1 op sy skaal. Dit is vier vlakke onder beleggingsgraad. SIH se nasionale langtermyngradering is ook afgegradeer, van Aa1.za tot Baa3.za, die laagste beleggingsgradering.

Die graderings is boonop op hersiening vir verdere afgradering geplaas.

Volgens SIH het Moody’s hom net ná middernag op 8 Desember oor die afgradering ingelig, maar SIH het die mark nie op die JSE se nuusdiens, Sens, daaroor ingelig soos noteringsvereistes bepaal nie. Tot op hede is geen Sens-verklaring daaroor uitgereik nie.

Moody’s het SIH toe op 28 Desember verder afgegradeer – onderskeidelik met ses vlakke tot Caa1 en op die nasionale skaal met ses vlakke tot B3.za.

Moody’s het ook aangedui daar is ’n hoë risiko dat SIH nie sy skuld sal kan betaal nie.

SIH sê Moody’s het hom om 12:03 op 28 Desember oor die verdere afgradering ingelig. SIH het tot 17:33 – nadat die JSE gesluit het – gewag voordat hy ’n Sens-verklaring uitgereik het.

Die JSE het ’n boete van R1 miljoen aan SIH opgelê. Die aankondiging dien ook as “openbare sensuur”.

Die Moody’s-afgradering het gevolg net nadat Steinnhoff International aangekondig het hy kan nie sy resultate vir die boekjaar tot einde September uitreik nie omdat sy eksterne ouditeure, Deloitte, rekenkundige onreëlmatighede ontdek het. Markus Jooste het daarna as uitvoerende hoof bedank en die Valke ondersoek ’n bedrogsaak teen hom.

PwC is nou reeds byna tien maande lank met ’n forensiese ondersoek oor Steinhoff se boeke besig.

Stéhan Grobler en Mariza Nel het in Februarie as direkteure van SIH bedank en Louis  du Prezz en Frans Geldenhuys is in hul plek aangestel.

Theunie Lategan het in Maart as direkteur bedank en dr. Len Konar het afgetree.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Kleinhandelaars  |  Aandele  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.