Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
JSE bekyk 400%-styging in Ayo se aandeelprys

Ayo Technology Solutions se aandeelprys het Maandag skielik met 400% gestyg en die JSE is besig om dit te ondersoek.

Ayo is een van die maatskappye waarin Iqbal Survé 'n belang besit. Foto: Getty Images

Die aandeelprys van Ayo, wat deel vorm van dr. Iqbal Survé se Sekunjalo-groep, was teen Vrydag se sluitingstyd onveranderd op R6 per aandeel, maar het Maandagoggend met ’n betreklike klein transaksie van slegs 400 aandele skielik tot R30 per aandeel opgeskiet.

Fin24 berig dat die markregulasie-afdeling van die JSE amptelik ondersoek instel om vas te stel wat presies gebeur het.

Volgens ’n woordvoerder van Ayo wat met Fin24 gepraat het, het die maatskappy self versoek dat die JSE ondersoek instel nadat die tegnologiemaatskappy se aandeelprys so skielik verander het ná ’n jaar waarin die prys relatief stabiel was.

In Augustus het die JSE Ayo weens foute in sy 2018-halfjaarresultate met R6,5 miljoen beboet.

Die JSE het toe gesê hoewel sy ondersoek na die maatskappy as regspersoon afgehandel is, duur ondersoeke na individuele direkteure voort. Dit sluit huidige én voormalige direkteure in wat op die direksie gedien het gedurende die tydperke waarin die onreëlmatighede plaasgevind het.

Ingevolge art. 11(5) van die Wet op Finansiële Markte is noteringsvereistes bindend op maatskappye en hul direkteure.

Die voortslepende drama oor Ayo se resultate volg op die Mpati-kommissie van ondersoek na onreëlmatige beleggingsbesluite in die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), die staatsbeheerde batebestuursmaatskappy wat ’n groot deel van staatsamptenare se pensioenfondsgeld belê.

Een van die herhalende temas van getuienis voor dié kommissie was dat daar ’n groot vriendskaplike verhouding was tussen Survé en dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, en dat behoorlike beleggingsprosesse gereeld omseil is.

In April 2019 het twee voormalige topbestuurders van Ayo voor regter Lex Mpati getuig dat hulle opdrag gegee is om syfers in Ayo se resultate vir die ses maande tot einde Februarie 2018 aan te pas om die markwaarde van die maatskappy hoër te laat lyk.

Die JSE het Ayo toe opdrag gegee om die 2018- én 2019-halfjaarsyfers deur eksterne ouditeurs te laat oudit, iets wat nie gewoonlik ’n vereiste vir tussentydse resultate is nie.

Die OBK het onlangs ’n hofaansoek ingedien om sy belegging in Ayo terug te kry.

Ayo staan die aansoek teen en hou vol dat die OBK se belegging nie in gevaar is nie. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.