
Nicky Newton-King, uitvoerende hoof van die JSE, en Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van die Steinhoff-groep, in September tydens die notering van Steinhoff Africa Retail in Suid-Afrika. Regs agter staan Johan van Zyl, voorsitter van Sanlam, en ‘n lid van Steinhoff se toesighoudende direksie.
Die JSE beplan om sy noteringsregulasies strenger te maak in die nadraai van die Steinhoff-skandaal.
Die beurs het ’n dokument vir konsultasie uitgereik met voorstelle oor onder meer sekondêre noterings, soos wat Steinhoff op die JSE gehad het. Steinhoff het sy hoofnotering in Frankfurt gehad en by nabetragting het dit geblyk dat dié beurs se reëls meer ontspanne as die JSE s’n is.
Die JSE sê die voorstelle is “in reaksie op die reeks maatskappyskandale, bespiegelinge en insinuasies” wat die Suid-Afrikaanse finansiële mark die afgelope jaar gekenmerk het.
“Soos verwag kon word, het dit gelei tot vrae oor hoe sekere beweerde aktiwiteite (oënskynlik ongemerk) kon plaasvind en of reguleerders soos die JSE stappe kon doen om dit te voorkom.
“Die gebeure die afgelope jaar het aan die JSE getoon daar is ’n behoefte om sy verantwoordelikhede te hersien en die regulasie vir hoof- en sekondêre noterings op te skerp.”
Die Steinhoff-skandaal, wat tot die ineenstorting van sy aandeelprys gelei het, het ’n negatiewe uitwerking gehad op die beeld wat Suid-Afrikaanse maatskappye in die buiteland het.
Ander reguleerders moet hul kant bring
Nicky Newton-King, uitvoerende hoof van die JSE, spreek in ’n verklaring die hoop uit dat die beoogde verandering ook ander reguleerders en rolspelers in die finansiële mark sal aanspoor om hul rolle te heroorweeg.
“Dit geld in die besonder die rolle wat buite die JSE se regulatoriese beheer val, waaronder openbaarmaking oor kortverkope en die openbaarmaking van vordering met ondersoeke na markmisbruik – albei onder die beheer van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor – asook die verantwoordelikhede van ander voogde van korporatiewe beheer soos direksies, ouditfirmas, ontleders, groot batebestuurders en aandeelhouers.”
Die dokument bevat onder meer voorstelle oor die regulering van primêre en sekondêre noterings asook die samestelling van direksies.
“Afhangende van die kommentaar wat ons kry in reaksie op hierdie dokument, kan ’n dinkskrum oor die verbetering van korporatiewe beheer gepas wees,” sê Newton-King.
Lees die dokument hier op die JSE se webwerf.
Kommentaar moet voor 22 Oktober by die JSE ingedien word. Dit kan aan John Burke, direkteur van regulering, gestuur word by consultation@jse.co.za.