Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
JSE kap groepe wat op syfers, nie omgewing fokus

Van $2 miljard tot $7 miljard se beleggings per jaar in infrastruktuur is nodig om die stryd teen klimaatsverandering te wen, maar geld is nie die probleem nie.

Daar is oorgenoeg geld, maar die probleem is hoe om die geld te mobiliseer, sê Elliott Harris, hoofekonoom van die Verenigde Nasies.

Die derde konferensie van die Partnership for Action on Green Economy (Page) vind tans in Kaapstad plaas. Foto: Pixabay

Harris het by die derde konferensie van die Partnership for Action on Green Economy (Page) in Kaapstad gesê om geld van die private sektor te lok na die groen ekonomie verg goeie sakeplanne.

Nog ’n uitdaging is hoe om die regte tegnologie by die regte plekke te kry, want sommige lande het baie streng reëls om intellektuele kapitaal te beskerm, wat dit moeilik maak om sekere tegnologie vinnig na ander lande uit te brei, sê Harris.

Die wêreld belê steeds geld in onvolhoubare bedrywighede want dit is winsgewend. Die rede waarom dit nog winsgewend is, is omdat al die eksterne koste nie ingereken word nie – byvoorbeeld die effek van die fossielbrandstofbedryf op die gesondheid van mense en op die omgewing.

Om na ’n groen ekonomie te skuif verg dus veel breër beleidsveranderings as wat tot dusver verwag is. Dit verg drastiese, dringende en dapper stappe van beleidmakers, sê Harris.

Lande meet steeds die sukses van hul ekonomieë aan die groei in bruto binnelandse produk (BBP), maar Harris voer aan dis ’n eensydige maatstaf wat niks sê oor die volhoubaarheid van die groei of die ware lewensgehalte van die mense in die land nie.

’n Akkurater geldwaarde behoort aan natuurlike kapitaal en natuurlike hulpbronne toegeken word sodat die eksterne faktore behoorlik waardeer kan word. ’n Nuwe meer veelvlakkige meeteenheid vir groei en ontwikkeling is dus nodig, wat verder gaan as bloot BBP-syfers.

JSE kap groepe wat net op syfers en nie omgewing fokus

Nicky Newton-King, uitvoerende hoof van die JSE, het in ’n paneelbespreking by die Page-konferensie gesê maatskappye moet beter besef wat die uitwerking van hul bedrywighede op die omgewing en samelewing is, want hulle fokus meestal net op hul finansiële syfers.

“Maatskappye moet dus nie net ’n wetlike lisensie hê om te mag sake doen nie, maar ook ’n sosiale lisensie.”

Newton-King meen die JSE verskaf ’n platform waar geld vir die groen ekonomie ingesamel kan word.

Al meer beleggers dring aan dat die maatskappye waarin hulle belê, volhoubaarder optree. Hulle is bereid om ’n langtermynsiening in te neem omdat dit “die regte ding is om te doen”, sê Newton-King.

Sy het gewaarsku teen “groen-vensterversiering”. Akkurate data is nodig oor presies wat maatskappye werklik doen om hul omgewingsimpak te beperk en die groen ekonomie uit te brei.

Frank Rijsberman, direkteur-generaal van die Global Green Growth Institute, het met Harris saamgestem oor beleid wat beleggings in die groen ekonomie kan belemmer, soos waar fossielbrandstof nog gesubsidieer word, veral in Afrika waar ondernemings nog grootliks dieselkragopwekkers gebruik. As regerings hul beleid verander om hernieubare energie te bevoordeel, kan maatskappye byvoorbeeld eerder na sonkrag kan skuif.

Kimmo Tiilikainen, Finse minister van omgewing, energie en behuising, meen nasionale grense kan oorbrug word om ’n groener ekonomie te bevorder. Die lande in Skandinawië het byvoorbeeld al die afgelope meer as 20 jaar ’n enkele, verenigde kragnetwerk. Danksy die groter doeltreffendheid kan meer groenkrag benut word en is die totale kweekhuisgasvrystellings van dié lande laer.

Tiilikainen meen subsidies vir fossielbrandstof is teenproduktief en moet uitgeroei word.

Peiling: Baie glo beleid sal sake herstel
  • Uit 137 deelnemers aan ’n peiling by die konferensie het 36% gesê regulering en beleid is die beste manier om meer beleggings na volhoubaarheid te lok
  • 26% meen finansiële aansporings is die beste
  • 14% glo ’n prys op natuurlike hulpbronne is belangrik
  • 11% glo meganismes om risiko’s te beperk is die beste
  • 9% glo die vertel van groen suksesverhale is die beste
  • 4% glo groter deursigtigheid, verslagdoening en openbaarmaking oor wat maatskappye oor die groen ekonomie doen is die beste.

Meer oor:  Jse  |  Konferensie  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.