Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
JSE kyk na Capitec-base se transaksies
Die JSE ondersoek direkteure van Capitec Bank se transaksies met aandele.

Die JSE ondersoek tans twee verskansingstransaksies deur direkteure van Capitec Bank.

Dit volg nadat Michiel le Roux, stigter van dié bank en tans steeds ’n direkteur, op 28 Mei ’n verskansingstransaksie voltooi het waarby 1,25 miljoen aandele ter waarde van R1,1 miljard betrokke was.

Chris Otto, nog ’n direkteur, het op 27 Mei ’n soortgelyke transaksie voltooi. In dié geval is 200 000 Capitec-aandele in die transaksie gebruik. Otto was betrokke by die stigting van die PSG-groep én Capitec.

Verskansing is ’n risikobestuurstrategie wat gebruik word om vir verliese in beleggings te vergoed deur ’n teenoorgestelde posisie in ’n betrokke bate in te neem.

Die rede hoekom dié twee transaksies ondersoek word, is omdat dit deurgevoer is onderskeidelik een en twee dae voordat Capitec-aandeelhouers gewaarsku is dat die Covid-19-pandemie waarskynlik daartoe gaan lei dat die bank se wesensverdienste per aandeel vir die ses maande tot 1 Junie met meer as 20% gaan daal. Dit is teenoor dieselfde tydperk in 2019. Capitec het dié aankondiging op die JSE se nuusdiens, Sens, gemaak.

Die bank het egter eers op 1 Junie – ook op Sens – aangekondig dat dié twee transaksies deurgevoer is.

Luidens Iress het Capitec se aandele op die JSE Vrydag, ná die aankondiging oor die laer verdienste, 5% laer op R845,77 gesluit. Die aandeelprys het egter sedertdien weer tot R942,97 gestyg.

Die JSE het aan Netwerk24 gesê luidens Capitec se handelsverklaring was die transaksies “ ’n buitemarktransaksie en het dit moontlik nie die handel op die JSE beïnvloed nie”.

“Die JSE se afdeling vir markregulering is nogtans besig om die (een) transaksie te ondersoek om vas te stel of daar probleme van regulatoriese belang is.”

Capitec het op navraag gesê dat geen regulasies oortree is wat Le Roux se transaksie betref nie.

“Capitec het op 14 April sy jaarresultate vir die jaar tot einde 29 Februarie bekend gemaak. In dié stadium het ons die mark ingelig oor alles wat ons destyds geweet het (wat die pandemie betref). Geen verdere inligting is aan ons direksie versprei in die tydperk voordat Michiel goedkeuring (vir die transaksie) verkry het nie,” lui Capitec se verklaring.

“Dit was eers nadat die resultate in Mei bekend gemaak is, wat lank nadat goedkeuring aan Michiel verleen is en nadat vooruitsigte aangepas is, dat die bestuur besluit het ’n nuwe handelsverklaring moes uitgereik word. Die nuwe vooruitsig is op 22 Mei met lede van die direksie gedeel.”

Capitec sê dit is ook lank nadat Le Roux die verskansingsooreenkoms op 4 Mei reeds onderteken het.

Die bank verduidelik verder dat die teenparty op die verskansingsooreenkoms sedert 4 Mei Capitec-aandele in klein hoeveelhede verhandel, juis om nie die maatskappy se aandeleprys op die JSE te beïnvloed nie.

Die handelsverklaring oor Le Roux se transaksie is op 28 Mei uitgereik, nadat al die aandele verhandel is wat deel van die transaksie was.

Capitec gee geen besonderhede oor Otto se transaksie nie.

Meer oor:  Capitec  |  Jse  |  Michiel Le Roux  |  Chris Otto  |  Transaksie  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.