Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
JSE-notering: Karooooo g’n tikfout

Nee, Karooooo is nie ’n tikfout of iemand wat op die sleutelbord aan die slaap geraak het nie.

Zak Calisto, uitvoerende hoof van Karooooo, wat Woensdag op die JSE in die plek van Cartrack genoteer het.

Die nuwe naam waardeur die voertuigopsporingsdiens Cartrack se beheergroep op die JSE genoteer is, spruit uit ’n moeilike Amerikaner wat die naam Karoo in Amerika as handelsnaam geregistreer het.

Toe Zak Calisto, stigter en uitvoerende hoof van Cartrack, aanvanklik sy beheermaatskappy die naam Karoo gegee het – uit sy liefde vir die Karoo en Suid-Afrika – het die Amerikaner, wat in pakstoorbedryf in Amerika betrokke is, hom gekontak en hy wou $1 miljoen hê om die naamregte oor te neem.

Calisto sê hy het hom $50 000 daarvoor aangebied, maar die Amerikaner wou nie byt nie, en later het Calisto maar opgegee.

Hy en sy bemarkingspan het toe besluit op Karooooo, en volgens hom is dit ’n goeie naam omdat enigiemand wat op die internet die naam dalk verkeerd intik met te veel o’s steeds by Karooooo en Cartrack se webblaaie sal uitkom.

JSE-notering

Karooooo, die beherende aandeelhouer in Cartrack, het Woensdag suksesvol op die JSE genoteer nadat dit op 1 April sy primêre notering op die Nasdaq-beurs in Amerika gedoen het.

Sowat R500 miljoen is met die Nasdaq-notering van Karooooo ingesamel en Calisto sê die geld sal gebruik word om in navorsing en ontwikkeling te belê asook om Cartrack verder uit te brei.

Op die JSE het Cartrack-aandeelhouers een Karooooo-aandeel ontvang vir elke tien Cartrack-aandele, en Cartrack is gedenoteer.

Tot 99% van Cartrack se aandeelhouers het besluit om die Karooooo-aandele te aanvaar. As Nasdaq-genoteerde maatskappy sal Karooooo voortaan kwartaalliks verslag doen, en die eerste verdienste-aankondiging word vroeg in Mei verwag.

Die Nasdaq-notering gee die groep toegang tot ’n breër aandeelhouersbasis en tot dieper kapitaalmarkte, sê Calisto.

Valdene Reddy, direkteur vir kapitaalmarkte by die JSE, sê hulle is bly die maatskappy het besluit om sy notering op die JSE te behou, want dit gee beleggers die geleentheid om voordeel uit Karooooo se internasionale uitbreiding te trek.

Singapoer

Die vlootbestuur-en-voertuignasporingsdiens se hoofkantoor is in Singapoer, waar Calisto die afgelope sewe jaar woon. Cartrack het sowat 3 000 werknemers, van wie 2 000 in Suid-Afrika is en die res in die verskeie lande waar Cartrack bedrywig is.

In die hoofkantoor in Singapoer is 150 werknemers, onder wie agt Suid-Afrikaners.

Volgens Calisto is op Singapoer besluit omdat dit naby die groeimarkte in Asië is, waar Cartrack mik om in lande soos Indonesië, Maleisië, die Filippyne, Thailand en Singapoer sterk te groei.

Dis ook maklik om in Singapoer sake te doen, en maklik om kundigheid van buite na die land te bring danksy die plaaslike regering se steun. Heelwat van Cartrack se groei in Suid-Afrika word juis vanuit Singapoer gedryf, en volgens Calisto sou die onderneming nie so fluks kon groei in Suid-Afrika as dit van hier af bedryf is nie.

Groeivooruitsigte

Cartrack het teen Februarie al meer as 1,3 miljoen internetverbonde voertuie in 23 lande, en Calisto verwag die mark sal groei.

In Suid-Afrika, waar die groep meeding teen onder meer Tracker en Netstar, kan nog 65% van die land se voertuigvlote nie nagespoor word nie.

Cartrack se intekenaarbasis het in die vyf jaar tot voor die Covid-19-pandemie met 22% per jaar gegroei, en in die laaste halfjaar van die afgelope boekjaar het dit op ’n geannualiseerde grondslag met 23% gegroei.

Hy meen ondanks mededinging is daar dus nog heelwat kans op plaaslike groei.

Meer oor:  Karooooo  |  Cartrack  |  Jse  |  Motorhandel  |  Notering  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.