Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
JSE: ‘Ons sou Steinhoff opgeskort het’

Die JSE het Vrydag gesê indien Steinhoff sy primêre notering in Suid-Afrika gehad het of slegs hier genoteer was, sou die maatskappy se verhandeling opgeskort wees omdat geen ouditmening op sy jaarstate verkry kon word nie.

Die JSE in Sandton, Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Gewone beleggers krap al meer as ’n jaar lank kop oor waarom Steinhoff se aandele steeds verhandelbaar is, selfs al is sy jaarstate baie later uitgereik as wat die JSE se reëls vereis.

Steinhoff het egter sy primêre notering in Frankfurt, Duitsland. Dit beteken die JSE moet by dié beurs se reëls hou, wat baie slapper as syne is.

Steinhoff het Dinsdag om middernag, voor ’n openbare vakansiedag, sy jaarresultate uitgereik.

Dit het getoon dat Deloitte, wat in Desember 2017 nie die jaarstate wou afteken nie, steeds nie ’n ouditmening uitgespreek het nie. Deloitte lig verskeie redes hiervoor uit.

Lees ook: Deloitte wil nie ouditmening gee

John Burke, direkteur van noteringsregulering van die JSE, is gevra wat dit vir ’n genoteerde maatskappy beteken.

Volgens hom sou dit “ernstige gevolge” vir ’n maatskappy ingehou het wat sy hoofnotering in Suid-Afrika gehad het.

“Dit is beslis nie goed dat die ouditeure nie ’n ouditmening uitgespreek het nie. In hierdie spesifieke geval sou ons hul verhandeling opgeskort het.”

Burke sê hy het dadelik nadat hy bewus geraak het daarvan dat Deloitte nie ’n ouditmening oor die jaarstate uitgespreek het nie, met Steinhoff se borg geskakel, wat bevestig het dat Frankfurt nie die maatskappy se verhandeling daaroor gaan opskort nie.

“Hul reëls is baie anders as ons s’n.”

Patrick Kalbhenn, woordvoerder van Frankfurt se aandeelbeurs, het bevestig Steinhoff-aandele se verhandeling gaan nie opgeskort word nie.

Vrae oor vakansiedag

’n Kundige oor JSE-reëls, wat naamloos wil bly omdat hy nie aangehaal mag word nie, het aan Netwerk24 gesê die uitreiking van die jaarstate in die nag voor ’n vakansiedag in Suid-Afrika laat vrae ontstaan, omdat dit Suid-Afrikaanse beleggers benadeel het.

Omdat Duitsland nie ’n vakansiedag gehad het nie, het dit beteken aandeelhouers kon daar eerste op die nuus reageer oor hoe swak die maatskappy se resultate is.

“Die grootste register is in Suid-Afrika, die meeste aandeelhouers is hier en hulle word benadeel. Die gewone ou wat baie skade gely het, kry nie die geleentheid om handel te dryf nie.

“Dit is ’n skande, as jy my vra. Beleggers wag al ’n jaar en hoeveel maande; hulle kon net nog een dag gewag het sodat aandeelhouers tegelykertyd kon begin handel dryf.”

Hulle het dit volgens die boek gedoen. Of dit moreel die regte ding is, is ’n ander bespreking. Dit sou beslis beter gewees het as albei die markte oop was.
John Burke van die JSE

Steinhoff se aandeelprys het Woensdag op die vakansiedag in Suid-Afrika met 7,6% in Duitsland gedaal.

Donderdag het dit met 20% op die JSE getuimel en teen Vrydag 16:30 met nog 11%.

Steinhoff het op talle vrae gesê: “Dit was ons plan om dit vroeër die dag uit te reik. Ongelukkig, soos gesien kan word uit die verslag van amper 350 bladsye, het ons ’n wesenlike klomp inligting uitgereik en die finalisering en goedkeuringsproses het langer geneem as wat aanvanklik verwag is.”

Steinhoff het nie reageer op die vraag oor hoekom dié spesifieke datum gekies is nie.

Hy het op 5 April aangekondig die resultate gaan op 7 Mei uitgereik word. Dit was reeds op 26 Februarie bekend wanneer die verkiesing hier gaan plaasvind.

Die maatskappy het gesê omdat hy ’n Nederlands geregistreerde maatskappy is met ’n primêre notering in Frankfurt, moet die reëls wat deur die Duitse en Europese reguleerders gestel word, gevolg word. “Sodra die resultate gereed is, moet ons dit dadelik uitreik.”

Steinhoff het bygevoeg dat die terugvoering wat hy gekry het, positief is en dat hy waardering gekry het dat hy die resultate binne sy eie spertyd uitgereik het.

Burke sê die JSE hoef nie goedkeuring te gee aan Steinhoff om die jaarstate om middernag voor ’n vakansiedag uit te reik nie. “Hulle het nie ons goedkeuring nodig nie. Hulle het dit uitgereik ingevolge die vereistes van hul primêre notering.”

Hy sê die JSE se reëls bepaal as dit die resultate is van ’n maatskappy met sy primêre notering oorsee, moet dit met die eerste kans die volgende verhandelingsdag in Suid-Afrika uitgereik word.

“Hulle het dit volgens die boek gedoen. Of dit moreel die regte ding is, is ’n ander bespreking. Dit sou beslis beter gewees het as albei die markte oop was.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Pwc  |  Kleinhandelaars  |  Ouditbedryf  |  Ouditeurs  |  Bedrog  |  Kleinhandel  |  Meubels  |  Meubelhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.