Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
JSE vra oudit-mening oor Ayo se markwaarde

Bewerings dat Ayo Technology Solutions se boeke “bekook” is om die maatskappy se markwaarde te verhoog, word nou deur die JSE ondersoek.

Ayo, ’n genoteerde maatskappy, het die afgelope weke onder skoot bekom voor die kommissie van ondersoek na die beleggingsbesluite van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat die meer as R1 800 miljard van die staatsdienspensioenfonds (GEPF) belê.

Die OBK het in 2017 R4,3 miljard in Ayo belê vir aandele wat R43 elk gekos het. Dié aandeelprys het die maatskappy op R14,8 miljard gewaardeer, maar Ayo se voormalige beleggingshoof, Siphiwe Nodwele, het Maandag getuig die maatskappy was eintlik net R1 miljard werd.

Lees ook: Survé praat bog, sê getuie

Die JSE sê in ’n Sens-verklaring hy het Ayo versoek om “dringend” met sy eksterne ouditeurs in gesprek te tree en ’n ouditmening van sy 2018- en 2019- ongeouditeerde tussentydse resultate te bekom.

Die JSE sê akkurate resultate is die hoeksteen van ’n gesonde aandelebeurs. Foto: Elvira Wood

Dis ’n buitengewone stap omdat maatskappye in die gewone gang van sake nie geouditeerde halfjaarsyfers hoef uit te reik nie.

Die JSE het Ayo versoek om die mark oor die uitkoms van die “gesprek” met die ouditeurs in te lig.

BDO Cape is Ayo se ouditeurs. BDO het Grant Thornton verlede jaar oorgeneem.

Die JSE sê die getuienis voor regter Lex Mpati deur twee oudwerknemers van Ayo dat hulle opdrag gegee is om die syfers vir die 2018-halfjaar aan te pas “om ’n opgeblase syfer aan die mark te gee”, is onrusbarend.

“Dié bewerings is vir die JSE baie kommerwekkend omdat die akkuraatheid en betroubaarheid van die finansiële inligting wat maatskappye publiseer, van deurslaggewende belang is en ’n hoeksteen is van ’n billike, doeltreffende en deursigtige mark vir die JSE en enige gereguleerde beurs.”

Lede van die publiek maak op gepubliseerde finansiële inligting staat om belangrike beleggingsbesluite te neem, sê die JSE.

Akkurate resultate is een van die JSE se noteringsvereistes.

Die JSE sê hy ondersoek ook die “talle ander bewerings teen die maatskappy wat in onlangse mediaberigte en in ander getuienis voor die kommissie aangehaal word”. Die beursmaatskappy sê egter dit sal “hoogs onreëlmatig en onwettig” wees om meer inligting oor ondersoeke bekend te maak.

“Daar word van die JSE vereis om eers alle feite met betrekking tot die bewerings vas te stel en die partye wat geraak word die geleentheid te gee om te reageer, voordat enige optrede onderneem kan word.”

Nodwele het getuig dr. Iqbal Survé en Khalid Abdullah, uitvoerende hoof van African Equity Empowerment Investments (AEEI), het Malick Sallie, beleggingshoof van AEEI, gevra om seker te maak Ayo word teen R14,8 miljard gewaardeer

Survé is een van AEEI se grootste aandeelhouers en die AEEI besit 49,36% van Ayo. Survé is ook die voorsitter van Independent Media.

Meer oor:  Independent Media  |  Jse  |  Aeei  |  Obk  |  Ayo Technology Solutions  |  Ayo  |  Daniel Matjila  |  Iqbal Survé  |  Gepf  |  Obk-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.