Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
JSE wil 2de Steinhoff só voorkom

Die JSE verskerp sy reëls vir genoteerde maatskappye om korporatiewe skandale soos dié van Steinhoff te voorkom – én om dit makliker te maak om diegene aanspreeklik te hou wat verantwoordelik is dat dinge skeefloop.

Steinhoff-aandeelhouers het die pyn die afgelope week weer eens aan hul sakke gevoel toe die aandeelprys sedert Dinsdagnag se bekendmaking van die groep se 2017-resultate opnuut in duie gestort het. Die waarde het gedaal van R2,01 per aandeel teen sluitingstyd Dinsdag, en het Vrydag op R1,42 gesluit.

steinhoff

Voor die bedanking van Markus Jooste, voormalige bestuurshoof, in Desember 2017 toe grootskaalse ongerymdhede aan die lig gekom het, was die aandeelprys meer as R54 per aandeel.

Die afgelope week het dit duidelik geword dat die bedrog wat op meer as R100 miljard geraam word, vir die groep in die 2017- finansiële jaar ’n bedryfsverlies van meer as R63 miljard tot gevolg gehad het.

Steinhoff se voortbestaan is in die weegskaal omdat sy ware balansstaat nie sy reuseskuldlas regverdig nie.

Die 2018-resultate sal na verwagting op 18 Junie bekend gemaak word.

John Burke, direkteur van die JSE verantwoordelik vir noteringsregulasies, sê in verskeie van die groot korporatiewe skandale wêreldwyd, soos Enron, het bedrieërs komplekse maatskappystrukture gebruik om hul konkelwerk te verdoesel. Dit is skynbaar ook die geval met Steinhoff, sê hy.

Lees ook: JSE: ‘Ons sou Steinhoff opgeskort het ’

Dit is bekend dat Steinhoff verskillende ouditeure, dikwels relatief klein firmas, gebruik het om filiale en assosiate te oudit. Dit het skynbaar die kans verminder dat enigiemand die hele donker prentjie sou sien.

Hoewel geen reël iemand sal stuit wat willens en wetens bedrog wil pleeg nie, hoop die JSE dat van sy nuwe voorstelle genoteerde groepe op die regte pad sal help hou, sê Burke.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Getty Images

Een van die voorstelle wat gemik is op komplekse strukture, is dat die direksies se ouditkomitees uitdruklik verplig word om hulself te vergewis van al die finansiële inligting binne die totale struktuur om akkuraat verslag te doen oor ’n entiteit se geldsake.

Dit behoort dit moeiliker te maak om filiale en assosiate só te misbruik.

Burke sê die finansiële direkteur en ouditkomitee moet sorg dat hulle behoorlik weet wat met die entiteit se geldsake aangaan.

’n Maatskappysekretaris van ’n genoteerde maatskappy met wie Rapport gepraat het, sê dit sal help om die ouditkomitee se aandag te vestig op die groter prentjie, maar eintlik is dit bloot goeie korporatiewe bestuur wat nog altyd deel was van die beurs se noteringsvereistes.

Sy sê dit lyk of die beurs se benadering tot dusver was om riglyne te gee in ooreenstemming met die King IV-benadering, maar die JSE wil nou meer voorskriftelik raak.

Die JSE stel ook voor dat van sleutelrolspelers vereis word om hulle daadwerklik uit te spreek oor byvoorbeeld die akkuraatheid en volledigheid van finansiële state en die voldoening aan die toepaslike wette.

Vir maatskappye wat op die JSE se hoofbeurs noteer, wil die JSE die vereistes – van minstens R50 miljoen se kapitaal vir maatskappye met ’n winsgeskiedenis, en R500 miljoen vir maatskappye sonder ’n winsgeskiedenis – so verander dat hulle nie die opbrengs van die notering by die berekening van hul kapitaal mag insluit nie.

Die JSE het die notering van die omstrede sakeman Iqbal Survé se Sagar­matha Technologies in April gekanselleer op grond van tegniese redes te midde van ernstige vrae oor die waarde wat die groep bied.

Die jongste voorstel is skynbaar daarop gemik om te verseker dat maatskappye wat beurs toe kom reeds waarde bied en dus ’n platform het vir verdere groei.

Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Pwc  |  Ouditeurs  |  Bedrog  |  Maatskappye  |  Korporatiewe Beheer  |  Direkteur  |  Jse  |  Ouditfirmas  |  Direksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.