Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Julie was stormagtig vir motorbedryf

’n “Perfekte storm” het die motorbedryf in Julie getref wat beslis ’n groot impak op Suid-Afrika se motorverkoopsyfers vir die maand gehad het.

Motorverkope het ná ’n goeie Junie weer in Julie vasgeval. Foto: Quickpic

Handelaars ervaar tekorte en plaaslike vervaardigers sukkel om produksie aan die gang te hou weens ’n internasionale tekort aan mikroskyfies.

Daarby het die kuberaanval op Transnet se hawens, die plundertogte in KwaZulu-Natal en Gauteng, asook die herinstelling van die vlak 4-inperking einde Junie die bedryf skade aangedoen, verduidelik Mark Dommisse, voorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada).

Tog lyk Julie se motorverkoopsyfers nie so sleg as wat die bedryf gevrees het nie.

Die totale verkope van 32 949 voertuie is 1,7% meer as ’n jaar gelede, maar 13,6% laer as Junie se verkope.

WesBank sê hy het in Julie minder aansoeke vir motorlenings ontvang.

Motorhandelaars het goed gevaar deurdat ’n geraamde 86% van die verkope deur hulle behartig is, met motorverhuringsmaatskappye wat 9,2% bygedra het, korporatiewe vlote 2,7% en die staat 2,1%.

Die verkope in die eerste sewe maande van 2021 staan nou op 260 466 eenhede, wat 33,7% beter is as dieselfde tydperk in 2020.

Dommisse sê die afsterwe van dr. Johan van Zyl, uitvoerende voorsitter van Toyota Suid-Afrika, was nóg ’n slag vir die bedryf.

WesBank stem saam dat die onrus in Julie ’n demper op motorverkope geplaas het. Lebogang Gaoakeetse, bemarkingshoof van WesBank, reken dat die maand se gebeure nog vir maande gevolge vir die bedryf sal hê weens die knou in sake- en verbruikersvertroue.

In Julie is 20 575 passasiersmotors verkoop, wat 9,1% meer is as ’n jaar gelede, maar dit is heelwat minder (16%) as die 24 497 eenhede wat in Junie verkoop is.

Ligte handelsvoertuie se verkope was 8,1% minder as Julie verlede jaar op 10 266 eenhede.

WesBank bly optimisties oor die potensiaal vir herstel in die bedryf.

Huurvlote wat hernuwe word, vordering met die regering se inentingsveldtog teen Covid-19, en ’n hervatting van die ekonomie sal in die algemeen bydra tot die opbou van die motorbedryf, meen Gaoaketse.

Die lae rentekoerse, die terugkeer na die aangepaste vlak 3-inperking en ’n matige terugkeer van stabiliteit lê volgens hom ’n grondslag vir herstel.

Toyota Suid-Afrika, wie se Prospecton-aanleg in KwaZulu-Natal vir sowat ’n week deur die onrus ontwrig is, het laat weet Julie was ongetwyfeld een van die moeilikste maande sedert die land verlede jaar uit die strengste inperkings gekom het.

k

Die bedrywighede by talle motorhandelaars moes opgeskort word, en die onrus het die aflewering van nuwe voertuie geraak. Toyota kon wel 8 320 voertuie in die maand verkoop, en sy markaandeel was 25%.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.